GRACIAS SENOR
Gracias Seňor!
Die reisverhaal het seker vele gesigte, die 4x4 ablusieblok of piepie sommer agter ʼn boom tog
in donker Afrika, die reis in die besigheidsklas deur die hoofweë van Europa tot die reis deur
jou eie hart.
Ek verkies om op die N1 te wees agter die stuur van my geliefde gewese Jag en deesdae
ʼn ressessie gedrewe ʼn beskeie Mazda 2tjie.
Tog het die lewe my na vele lande geneem en in dit soveel kon bekyk. My werk was om
mynbou geleenthede in godverlate lande te gaan soek. Vyftien van hulle. Gou-gou weet ons
dat jou belangrikste gereedskap naas jou paspoort jou “phrase book” is. Jy moet eenvoudig die
twintig towerwoorde leer ken. Woorde soos asseblief, dankie, ja, nee, hoender, vis, beesvleis,
bier, rooiwyn en ʼn paar kritiese kragwoorde.
Dan natuurlik om te kan tel anders verneuk hulle jou net daar.
Amerikaans is maklik, ons ken dit van die TV af, net jammer hulle verstaan nie ʼn woord
wat jy sê nie. “I will be here ten past twelve ...” beteken vir hom niks, hy ken net van "twelve
ten".
Dan Kanadees, dis maklik want ʼn dialek van Amerikaans. Chinees; los dit liewer.
Russies
ook erg want mens kan dit nie lees nie. Vietnamees sing jy en hulle skryf ons letters. Kon selfs
vir oorlede Ho chi Ming is sy grafkelder daar in Hanoi besoek en vir die ou sing!
Dan is Portugees maklik want die klanke is skerp. Frans ewe so. Skots heeltemal
onverstaanbaar, skryf maar alles asof jy doofstom is.
Dan die moeilikste taal van almal, Australies. Daar praat hulle in afkortings, “Which uni
did you attend, mate?”
So ... met my kollega, Lillian, ʼn voete op die grond, linkerbreinige politieke wetenskaplike
is oppad na Lima, Peru. Chaos tyd en die eerste wat ek my hande op die phrase book kon sit
was toe ons opstyg op pad na Miami. Leer en toets myself op pad (dis mos die langste
ononderbroke vlug op aarde) en toe ons daar kom het ek al my twintig towerwoorde mooi
onder die knie. Lillian slaap al die pad.
Ons verwyl die dag op die goue strande van Miami en vermy oogkontak met die vele
skamel geklede dames. Die mense het mos geen sin vir sedes nie, ek het maar ander pad moes
gekyk, my ma het my mos nie so groot gemaak nie!
Toe verder na Lima. Groter as Londen, dit reën nooit. Reuse Andes berge troon uit vol
sneeu. Kom by ons nuwe kantore, loer uit by die venster en vra, “Nou wat is dit dan?”
“Dis ʼn piramide,” vertel my kollega.
“Tot siens, sien julle later!” en weg is ek met my Pentax.
Gaan draf die volgende dag, daar is ʼn reuse katedraal en sewe uur die oggend stroom duisende
mense in vir die oggendmis voor werk. Alles in dertig minute. ʼn Koor sing en die priester
bedien vir ons die nagmaal soos dit bedoel was om te doen, “... el Padre, e Jesu Cristo y el
Espíritu Santo ...”
Hierdie mense gaan elke dag voor werk kerk toe, eenmaal ʼn week kom belei hulle hul
sondes. Hulle slaan nie mekaar nie, die gesinne is gesond en persoonlike konflik is ʼn vreemde
woord. Soms wil ek huil oor die skade wat Luther en Calvyn ons aangedoen het ...
Daardie aand gaan ek en Lillian eet in ʼn restaurant. Die kelner kom met sy boekie. Sy vra
hom, “do you have steak? Is it nice? And white wine?”
Die ou staan woordeloos soos Lot se soutpilaar.
Ek vra toe, “Carne, señor?”
“Si!” antwoord hy.
“Uno carne, uno pollo, vino tinto y vino blanco,” gee ek die bestelling.
“Si,” bevestig hy.
“Gracias señor,” bedank ek die ou.
Die aand verloop genotvol en nadat ek betaal het, vra Lillian nou rooi van woede, “Mag
ek jou iets baie persoonliks vra? Sies man! Jy het dit my nooit vertel nie, van wanneer af praat
jy so goed en vlot Spaans?”
Opmerkings
Plaas 'n opmerking