ʼn Kissie vol Soentjies
Ou Koos is al weer dikbek en kyk van ver na Vanwyksvlei. Hy vryf oor sy lang onversorgde spierwit baard. Die dorpie en die ysterklip koppies dans in die hitte, dis al weer aaklige Desember. “Hoe minder ek met die simpel mense te doen het hoe beter, ek HAAT hulle,” dink hy vir die soveelste keer. Hy onthou met bitterheid die politieke struwelinge, die jaloesie oor sy meestersgraad waarmee hy grense van ingenieurswese geskuif het, die skuld wat op hom gepak is na die dam gebreek het, die spanning wat tot Susara se dood gelei het en dat sy kinders dit alles glo en nooit hier kom nie. Ongelukkig moet hy soms daarheen loop om sy pensioen en pos te gaan haal en paar goedjies te koop. Hier in sy modderhuisie is hy op sy gelukkigste, paar skape, die windpomp vir sy water met sy boeke en die kerslig saans. “Dan die simpel dominee, vir wat karring hy so aan my? As hy weer hier kom jaag ek hom weg!” Koos gaan lê vir sy middagslapie in die kokende warm huis. Hy dut net i...