ʼn Kissie vol Soentjies
Ou Koos is al weer dikbek en kyk van ver na Vanwyksvlei. Hy vryf oor sy lang onversorgde spierwit baard. Die dorpie en die ysterklip koppies dans in die hitte, dis al weer aaklige Desember.
“Hoe
minder ek met die simpel mense te doen het hoe beter, ek HAAT hulle,” dink hy
vir die soveelste keer.
Hy
onthou met bitterheid die politieke struwelinge, die jaloesie oor sy
meestersgraad waarmee hy grense van ingenieurswese geskuif het, die skuld wat
op hom gepak is na die dam gebreek het, die spanning wat tot Susara se dood
gelei het en dat sy kinders dit alles glo en nooit hier kom nie.
Ongelukkig
moet hy soms daarheen loop om sy pensioen en pos te gaan haal en paar goedjies
te koop.
Hier
in sy modderhuisie is hy op sy gelukkigste, paar skape, die windpomp vir sy
water met sy boeke en die kerslig saans.
“Dan
die simpel dominee, vir wat karring hy so aan my? As hy weer hier kom jaag ek
hom weg!”
Koos gaan lê vir
sy middagslapie in die kokende warm huis. Hy dut net in toe is daar ʼn klop aan
sy deur. “Ag nee wat nou!”
Hy
pluk die deur oop. Voor hom staan Annemarietjie, die dominee se blonde
dogtertjie. “Ja, wats dit nou?”
“Oom,
ek en my maatjies wil vir oom iets kom vra?” sê die voor-op-die-wa dogtertjie.
By haar is Sarie en Annetjie.
“Ek
het niks met julle te doen nie, gaan weg!”
“Oom
asseblief, en ons het vir oom ʼn geskenkie gebring,” sy hou ʼn mooi pakkie uit
met ʼn rooi strikkie en ʼn briefie op. Die dogtertjies draai stadig om en stap
die paadjie af terug na die dorpie toe.
Koos
word doodstil, die pakkie weeg amper niks. Stadig maak hy dit oop. Hy lig die
deksel op. Binne in niks ... hy lees teensinnig die briefie.
“Liewe oom Koos,
Die geskenkie is net vir oom. Oom moet
weet ons kindertjies is vir oom so jammer en bid elke dag net vir oom.
Kyk mooi in die kissie, oom sal sien dit
is stampvol, ek en Sarie en Annetjie het vir twee ure lank ons soentjies hier
in geblaas net vir oom. Ons is so lief vir oom.
En oom, oom is mos die heel mooiste man in
ons dorp, sal oom dit vir ons kom doen asseblief?
Sien dit gaan so werk ...”
Dis ou Kersaand,
die kerksaaltjie is vol mense. Hulle sing, “voor u ryk moet die duisternis
swig, tot in ewigheid bly U die lig, Heer, gebore vir ons!”
Op
die verhoog is daar ʼn groot stoel, omring deur veelkleurige pakkies, sy lang wit
baard hang oor sy rooi baadjie en al die kindertjies lag met hom en raak aan
hom.
Hy
lag vir die eerste keer in baie jare, trane van vergewing en versoening drup op
sy helder rooi broek ...
Geinspireer die die kersverhaal van Fred Burks, The Gold Wrapping Paper. Erkennin aan Koos du Plessis.

Opmerkings
Plaas 'n opmerking