Voshaar meisiekind
VOSHAAR MEISIEKIND
Koos se Prado stop stadig voor die opstal. Pieter en Annemarie stap vinnig uit, “Hallo Pappa!”
“Dag my liewe kinders!” Die drie druk mekaar.
“Dankie
dat Pappa vir haar vir die naweek gebring het. Dis net onmoontlik om nou in die
skeertyd weg te kom.”
“Dit
is my grootste voorreg,” Koos maak die agterdeur oop, “Kom my kindjie.”
Lydia
kyk diep in sy oë, “Dankie Oupa, ek is so lief vir oupa!”
Annemarie tel haar op en Pieter vou sy arms
om haar. Koos staan terug, hy haal sy sakdoek uit as hy na die kaal koppie kyk.
Die pragtige voshaartjies het nou amper almal uitgeval.
“Matrone
en dokter sê sy is rustig. Sy het al die pille saam gegee en ook vir die
naarheid. Annemarie, sy sê jy kan maar lekker kook vir haar!”
Lydia
neem haar kruk en stap stadig saam met haar pappa en mamma na die huis.
“Pasop!!” skree Pieter. Lappa storm om die
huis reg op Lydia af, sy dik stert swaai heen en weer en hy spring op en af!
Kasper kom by die voordeur uit en begin voor haar rol. Almal wat vir haar lief
is, is nou hier en Lydia lag en lag.
Hulle
sterte staan nou penorent!
Die
heerlike ete by kerslig, “Nou ja dis tyd om te gaan inkruip. Lydia, druk net
die knoppie langs jou bed en ek is dadelik daar.”
“Goed
so mamma ... en mamma en pappa, ek voel so lekker weer, net omdat ek terug op
Waboomskloof kan wees. Ek wil tog probeer môre ʼn entjie te gaan stap. Kasper en Lappa kan saam kom en dalk kan ek tot by Bella met die nuwe kruk loop!”
“Doen
so my kind, ek gee die selfoon saam dan bel jy as ek moet kom.”
Die son kom op oor die Sederberge, dis die
mooiste lentedag. Lydia is lankal op en aangetrek en Lappa hardloop weer in
sirkels toe hy die tekkies sien!
“Pappa
en Mamma, hier gaan ons! Ek sal laat weet as dit sukkel. Sal net tot naby Bella
loop en haar weer stout maak met die hanepoot natrossies!”
Sy
stap stadig weg met die kruk, Lappa sirkel vrolik terwyl Kasper al in die mik
van die volgende kokerboom wag. Hy maau, “Kom julle ouens! As ek nog moet wag
sal paar mossies les opsê!”
“Ag ou
grootbek,” blaf Lappa. “Klim af daar dat ek jou wys jong!”
Lydia lag vir die twee stouters, sy voel asof
sy sweef. Hulle stap tot by die heiningdraad. Die hele trop staan en wei, net
een kyk op en sy hardloop na die draad toe en sy mêê, “Kleinnooi!”
“Bella!
My hanslammetjie!” Lydia hou haar styf vas. "Jy is so groot! Watse
wolhaarstories vertel jy nou al weer jong?”
"Lydia,
ek is die grootste ene hier en het tog ʼn kêrel. Dis daai ou wat daar eenkant
staan met die lang horings en ek gaan ʼn lammetjie kry!"
Sy sit
op ʼn groot klip. Sy is so gelukkig, Waboomskloof se ysterklipkoppies, die berge
en die rivier, dit is so mooi … en toe, toe begin alles draai voor haar, die
mooi versmelt tot ʼn iets anders. Sy lag weer en prewel saggies, “My
dieremaatjies, ek sien die Hemel …”
“Pieter dit raak nou lank jong, kom ons gaan
kyk maar want sy antwoord nie die foon nie.”
Pieter
en Annemarie stap vinnig na Bella, sy kyk af na haar kleinnooi ... voor die
dogtertjie lyfie is Kasper opgekrul en agter haar rug styf teen haar is Lappa ...
Die
keer so anders, Kasper en Lappa kyk net na haar en hul se sterte is styf in
getrek …
Die woorde “voshaar”, “Bella”, "Lappa", “Natrossies” en “Waboomskloof” gekry van die wondergedig van Boerneef en die lied van Louis van Rensburg, “Voshaarnooi.”


Wat ‘n pragtige stukkie werk. Potch Mannekoor sing ook soms Voshaarnooi. Die stuk spreek tot my. Pragtig Vds👏🏻👊🏻
AntwoordVee uit