Vinniger as Arende was hulle

 



“Bakboord 35 grade ... stuurboord 25 grade ...” roep luitenant Derrick Page die instruksies aan ons.

In die stuurkajuit sit kaptein le Roux, silwer vlerkies op sy linker bors, wat ons almal vandag veilig na ons bestemming moet uitbring. Ons is bemanningslede van 35 Eskader, Suid-Afrikaanse Lugmag. Ons is nie sissies nie, ons kan enigiets doen!

Elkeen hou ʼn klipbord vas waar ons die voorwerpe wat deur die luitenant vir ons uitwys word netjies nommer en klassifisseer. Die lokaliteit, hoek van Voortrekkerweg en Selbournestraat, Goodwood! Die onderwerpe geklasifisseer in terme van haar lengte, been vorm, blondheid of nie en natuurlik die gesiggie!

Ons is op pad huis toe in ons bus na ʼn lang dag van oorlogvoering op die DF Malan lughawe, Kaapstad, in ons reuse Shackleton bomwerpers. Ons is MANNE! Om hier te kom ʼn lang pad en laat ek jou bietjie vertel:

 

Dit is ses maande vroëer, die trein stop in Pretoria stasie, ou Brinkie klim bang-bang af.

Die man in blou geklee kom beleefd nader, “Meneer, is u dalk ʼn lugmag dienspligtige?”

“Ja, meneer,” antwoord Brinkie.

“Nou wat de f@$k staan jy nog hier? Ek is geen meneer nie, ek is ʼn korporaal! Kry jou donnerse gat in rat en kom in daai Bedford, en f@$kken gou ook!"

Brinkie sleep sy bagasie agter hom aan en klim saam met nog dertig ander verwilderde agtienjariges in die Bedford. Drie maande van fisiese en emosionele hel volg. Dril en hardloop, polish ʼn spit, maar stukkie vir stukkie bou hulle selfvertoue. Brinkie is kort, klein en fiks en ideaal vir die volgende stap, die Lugmagkollege!

 

“Goeie môre here, sal u asseblief u sitplekke in neem?” Hulle glo hul ore nie!

Brinkie voltooi sy kursus en word uitgeplaas na 35 Eskader, DF Malan Lughawe.

 

"Brinkie speel jy skaak?” die eerste bevel en hy word in die navigators se span opgeneem. As ons vlieg mag jy mos nie darts gooi nie ...

Gou deel van die groep, dag en nag op diens, die basis word ʼn naweeknag deur ʼn bende aangeval, net drie om te verdedig, Brinkie skiet al twee magasyne leeg, die skerwe van die wattelboom spat in sy gesig toe hulle koeëls dit tref ...

Hulle lê snags op die witstreep as die Boeing 707 opstyg en speel chicken wie eerste weghardloop. Hulle vlieg na verre lande, “Brinkie, praat jy Portugees? Jy bleddie gou leer wat ons gaan nou twee weke in Luanda bly en jy het nie ʼn idee oor hoe die girls daar lyk nie!”

Hulle behoort almal aan die Ysterplaat NG Kerk se kerk jeug vereniging want Dinsdagaande is dit tyd om die meisies op te chat.

Die koue oorlog word erger, hulle vlieg tot twintig ure op ʼn keer, die vier Rolls Royce Griffons grom gerustellend op die vlerke, een gaan dit seker nie maak nie, maar ons kan oor die weg kom twee … Brinkie sien die fregat, die rooi hamer en sekel waai in die Suidoos, die lugafweer kanonne volg hulle, hulle is bang, baie bang.

Die Kolonel Lombard is die baas en eintlik dierbaar, ons weet niemand mag van die Koreaanse oorlog praat nie, hy was vir twee jaar daar die krygsgevangene kamp ...

Alles kom tot ʼn einde, en dis forty days.

 

“Brinkie kom f@$kkenwil gou hier,” beveel die kolonel, “en maak die donnerse deur agter jou toe ... ek hoor jy gaan weg?”

“Ja kolonel, my diensplig maak volgende maand klaar.”

“Nou wat gaan doen jy dan?”

“Ek gaan universiteit toe, kolonel.”

“Is jy van jou verstand af? Is jy mal?” skreeu hy, “F@$k uit my kantoor uit!”

Die verskrikte Brinkie loop uit en verstaan nie wat gebeur nie.

 

”Brinkie, kom kuier gou hier man,” vra die kolonel die volgende môre, “Sit en teken net gou hier.”

Brinkie neem die pen en die papier, “Lugman Brink, hiermee word u permanent aangestel en onmiddelik bevorder tot eerste luitenant, geteken RC Hiemstra, Luitenant Generaal, hoof van die SA Lugmag.”

Hy dink lank ... maar sit die pen neer ... die kolonel sit met ʼn sakdoek in sy hand. “Ou Brinkie, ek het geweet jy kan nie, ek het maar net gehoop jy dit dalk anders sou dink ..."

Hy is woordeloos, skaars neëntien, iemand glo in hom, iemand weet hy kan alles doen as hy moet. Hy staan op, sonder ʼn woord, maak die deur oop,

"..en Brinkie ... dankie ..."

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Voshaar meisiekind

Sneeuwitjie van die Veld