Sneeuwitjie van die Veld



“Kom ons twee gaan die kalfie soek, ons tweetjies, ek en jy … en ons moet niks versuim, want as die kalfie buite bly, sal hy vannag verkluim …” Die trane loop weer Sara se wange as sy die amper tweehonderd jaar oue gediggie weer en weer lees terwyl sy oor die dorre landskap kyk. Hoekom nog so lank voor ons kan huis toe gaan? Elke dag is dit net slegter hier op Titan.

 

“Kry julle self in rat! Hoekom moet ek so met julle sukkel?” skree Jonathan voor hy die kajuitdeur agter hom toe klap.

Die span kyk na mekaar, “Wat nog tog weer?”

Jonathan word al meer ongeduldig, niks is meer reg nie en die span weet nie meer watter kant toe nie en buite dans die dorre klipkoppies in die vreeslike hitte.

Sara kyk maar weer na die tablet voor haar, “Sy voel nie meer die kou. Sy't al haar kleertjies uitgetrek, die Kleinbaas te behou!”

Skielik gaan die kajuitdeur weer oop en Jonathan stap in.

“Ons moet ons reg kry vir die ruimtegoewerneur en julle sit net hier rond. Ag nee man!”

Sara kyk na hom, “Maar Jonathan, alles is perfek reg, ons werk elkeen meer as vyftien ure per dag en ons het die meeste punte van al die basisse, wat kort dan nog?”

“Bly stil!” skree hy, “Julle hopeloos, kom reg of ek verplaas julle almal Lapetus toe. Daar sal jy sweet en jy sal heeldag ʼn masker moet dra om asem te haal!”

 

“Peter, jy doen vir ons die skottelantennas. Maak dit silwerskoon en kyk na elke koppeling, Alfonso jou werk is die rioleringstelsels, ek soek nie ʼn geur nie, hoor jy vir my!”

Hy vee verder op die tablet en deel opdragte een na die ander uit. Die woord ‘Asseblief’ bestaan nie meer nie. "En jy Sara, vat die Jeep en gaan daarmee tot by die buitebasis en maak seker dat die plek silwerskoon is en alles werk. Wag tot net tot dit koeler is anders kom jy iets oor en dan is dit mos weer my skuld.”

Hy draai om en klap die deur agter hom toe.

Sara bly liewer weer stil en wonder hoe sy iets moois van alles kan maak. Hoe kan sy Jonathan verander? Gelukkig hier op Titan is dit darem die enigste ander plek in die sonnestelsel waar mens ook kan asemhaal, al sukkel dit.

Die reuse sirkels van Saturnus draai stadig om hulle, die groep kyk na mekaar en sug diep. Een vir een staan hul op om die onsinnige werk te gaan doen. Sara trek die dunste oorpak aan en gaan sit in die plat voertuig wat soos ʼn kruiwa lyk. Dit sweef bo die grond sonder wiele.

“Hoekom op aarde noem hulle dit Jeep?” wonder sy weer, "Waar kom die snaakse woord vandaan?”

Sy druk die knoppie en die voertuigie vertrek in ʼn wolk stof op die een uur reis na die buitestasie. “Dankie tog, nou kan ek darem alleen wees weg van die knorrige spul!”

Sy sit heerlik agter oor terwyl die Jeep dit self bestuur.

Uiteindelik is die buitestasie met sy klomp antennas voor haar, dit is nog bitter warm en mens amper nie glo dat dit oor ʼn paar uur amper minus een honderd grade sal wees!

Sy neem die toerusting en werk vinnig van sensor tot sensor. Gou-gou is alles gedoen en daar is tyd om lekker te ontsnap. Sy gaan lê heerlik op die sand en kyk ver die diepte in, in die lug is die reuse Saturnus ringe te mooi, “Waar is ons blou planeet en die Vrystaat? Waar is oupa Kobus en die dierbare Boela vandag?”

Sy sluimer heerlik in en droom van die oop vlaktes, die merinos wat wei en die kokerbome op oupa se plaas.

“Beeep! Beep!” Sy ruk wakker, die Jeep dryf vorentoe! Dit loop al vinniger en jaag weg in die vertes in! Haar verbinding met die buitewêreld afgesny. Dit is al voertuig in die basis en niemand kan haar nou help nie ...

Die donkerte kom vinnig en dit word kouer en kouer, sy bewe van die koue en vrees. Sy begin haar bewussyn verloor toe … "Tannie Sara! Tannie Sara! Wakker word, jy gaan verkluim!”

Sy ruk van die skrik ... reg voor haar staan ʼn tienerdogter, die mooiste kind met spierwit kleertjies aan. “W-w-wie is jy?”

“Dit maak nie nou saak nie, ons moet jou deur die nag kry, kom!” Die meisie sweef voor haar uit tot by die sandwal langs die satellietstasie, daar is ʼn gat. "Kruip in tannie!”

“Maar wat van jou?“

“Klim in!” en sy stoot Sara tot diep in die gat.

Die meisie gaan lê voor die gat en dit sluit alle lig af. Dit word warmer en Sara kan weer asemhaal. Sy sluimer weer in en val in ʼn diepe slaap. Sy droom weer van die Vrystaat en Boela wat balle gaan haal wat sy vir hom gooi …

 

Dit word lig, die gat se opening is wyd oop, daar is niemand nie, “Waar is die meisie dan?”

Voor die buitestasie staan die Jeep-kruiwa, “Dis ʼn wonderwerk!”

Op die sitplek is ʼn pienk papiertjie, sy vou dit stadig oop, “Liewe tannie Sara, onthou altyd, 'Inkosi het die nonnatjie gebêre in Sy arm. Hy het haar met Sy kleed bedek ... Sy voel nie meer die kou. Sy't al haar kleertjies uitgetrek, die Kleinbaas te behou' ... tannie Sara, jy is ʼn wonder mens, gaan terug en maak hulle heel, my beste wense … Racheltjie de Beer …”

 

Erkenning aan AG Visser. Spookstorie met vandag ʼn honderd jaar in die toekoms. Lapetus en Titan is twee van die twee-en-sestig mane van Saturnus.

 


Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Vinniger as Arende was hulle

Voshaar meisiekind