Salig is die Vredemakers
- Kry skakel
- X
- E-pos
- Ander programme
“So kan dit nie aangaan nie,” sê Engela, “Pieter, ons sal eenvoudig uit hierdie gemors moet kom! “
Pieter skud net sy kop,
kyk uit na die verskrikking buite. “Oom Gabriël het gevra ons moet gaan kyk. Ek
stel voor ek gaan met oom Louis praat en jy gaan na oom Koos toe. Die oom sal
jou nog onthou ons was mos bure.”
“Goed, kom ons doen so en
so gou ons kan.”
Koos slaap vas, die getroue Boela styf
teen sy been en sy saalsak vir ʼn kussing. Die Mauser styf vasgeklem, dit is
drie uur, dit is pikdonker en al die manskappe slaap onder die ope hemel. Dit
is Augustus, net buite Kroonstad en dit is bitter koud.
“Oom ... oom Koos?” hoor
hy ʼn stemmetjie. Koos sien verbaas die pragtige dogtertjie in silwerwit
kleertjies by hom.
“Oom dit kan nie meer so
aangaan nie. Ek kom om oom te help om met hulle te gaan praat,” sê Engela. “Oom
was nog altyd alleen. Oom het mos voor dit begin het geweet dat dit so gaan
wees en toe skree almal op oom dat oom ʼn lafaard is ...”
“Ja my kind, maar waar
kom jy dan nou vandaan?”
“Maak nie saak nie oom,
weet net dat ek by oom is en saam Vereeniging toe gaan,” antwoord sy. “My
ouboet Pieter praat met oom Louis en hy sal dan die hele tyd by tannie Nonnie
wees. Ons twee praat net drie uur in die oggend met julle.”
Koos word wakker, sy
Mauser lê eenkant, Boela staan onrustig rond en snuif, in sy hande is sy Bybel
met ʼn silwerwit veer, hy maak dit oop, die versie is met pers omring, “zalig
zijn de vredestichters ... ”
Die jare gaan verby, Koos besoek prinse en
konings en skep ʼn nuwe land, tannie Nonnie se boek oor swaarkry en vergewing
word ʼn wêreld treffer.
Maar ... die sluipskutter
het die laaste woord en Koos verstik in sy eie bloed.
“Dit is raak!” prewel hy
vir laas.
“Welkom hier by ons, Koos!” sê Gabriël.
Koos is ongemaklik en
loer die heeltyd oor sy skouer na sy pragtige sneeuwit vlerke. Hy kan nog nie
lekker vlieg nie, almal lag te lekker vir hom, veral ou Paul, want dis twee
tree op die grond en dan drie vlerk klappe in die lug!
“Koos, hier is iemand wat
met jou wil kom praat,” sê Gabriël.
“Hallo oom!”
“Engela, dis jy! Jy het
elke nag my geleer het hoe om met hulle te praat en vrede te kry. Engelatjie,
jy het dit alles vir ons land gedoen!!”
“Nee oom, dis oom wat so
hard gewerk het. Kom, ek wil graag vir oom iets gaan wys.”
Hulle vlieg deur die
helder verligte omgewing, alles is skitterwit en pragtig, toe deur ʼn lang
tonnel. Oom Koos glo nie wat hy sien nie. Derduisende engeltjies wat op en af
vlieg!
“Oom,” sê Engela, “hier
is al my maatjies ... hulle noem ons die Kampengeltjies!”
Die meeste is babatjies,
maar baie peutertjies en sommer klompe tieners wat rondvlieg en heerlik lag en
sing.
“Oom en dit is Pieter, my
ouboet,” stel sy hom aan die mooi engel seun voor, “hy wil iets graag vir oom
doen.”
Pieter waai met sy vlerke
en al die engeltjies kom hang mooi voor die oom. Pieter swaai sy
dirigentstokkie, Engela gee die eerste noot.
Oom Engel Koos, Engel
Gabriël, Engel Paul, Engel Theunis en al die ander snik ....
Agt en twintig duisend
mondjies trek hul asems in en die Hemelkoor sing,
“De la Rey, de la Rey, sal jy ook nou die Kampengeltjies kom lei?”
- Kry skakel
- X
- E-pos
- Ander programme

Opmerkings
Plaas 'n opmerking