Ons kindervriend

 

“Haaaa tsjieshoe !!” hoes Rudolf nou vir die soveelste keer.

“Toe nou Rudolf man,” sê Blitsie, “ons moet slaap en jy bly hoes, weet jy hoe vêr moet ons môre vlieg en as ons nie nou slaap nie gaan dit sleg wees.”

“Ek kan nie help nie ouens, ek dink ek het griep,” sê Rudolf en hy kyk in die plas water voor hom, “kyk, my neus is bloedrooi van die koors!”

“Ou Rudolf die rooineus takbok!” roep ou Komeet en skud die reuse horings op sy kop heen en weer, “nou het ek alles gehoor!”

“Wat se lawaai is dit?” die deur gaan oop en Oom Santa stap in, sit lang wit baard nog deurmekaar geslaap, “julle ouens moet rus, ons het ʼn lang pad voor.”

“Oom, oom kyk net Rudolf se neus!” gil Blitzie, “Die gloei van die koors, kyk jy kan dit van ver af sien in die nag!”

“Rudolf, kom hier dat ek kyk,” sê die oom, “jong, jy is dan vuurwarm van die koors en ek dink nie jy sal kan saam gaan nie.”

“Maar oom ... ek het al die jare nog voor getrek, oom asseblief ... !!"

“Rudolf, jy is nie meer jonk nie en ek wil nie met jou gesondheid speel nie.”

Rudolf, laat sak sy kop, die trane loop oor sy harige wange. Hy kyk hoe die oom almal inspan, hulle lag opgewonde, die slee is oorlaai met die mooiste geskenke en hy moet nou in die stal agterbly. Om oud te word is so swaar ...

Die slee trek weg en almal sing, “Kersfees kom, Kersfees kom, gee aan God die eer. Skenk ons ʼn helder Somerkersfees ...”

Oom Santa se baard wuif in die wind. Skielik is dit doodstil, net Rudolf bly alleen oor met sy gedagtes en herinnerings van die miljoene kindertjies wie se hartjies hy kon bly maak. Hy gaan staan op sy knieë en kyk op en toe hoor hy vir laas, “Heer gebore vir ons!”

Hoog bo hom vlieg die engeltjies, spierwit klere en hulle draai in sirkels om hom terwyl Rudolf se gedagtes vervaag, hy hoor en sien nie meer nie. Stadig rol hy om en gaan lê. Hy gee ʼn laaste diep sug, terwyl die engeltjies by hom sit en sy voete vashou terwyl hulle saggies oor sy kop en horings streel.

 

Liewe maatjies, vra vir pappa dat hy jou om middernag Kersfees na die stoep te neem. Laat hy vir jou die Suiderkruis wys. Kyk stip en lank daarna en ek belowe jou ʼn klein rooi sterrietjie sal reg in die middel skyn ... dis die grootste kindervriend, Rudolf die rooineus takbokkie ...



Name is aangepas soos deur die eeue oue gebruik en die storie gebou op die ou liedjie van Bing Cosby. Liriek van Koos du Plessis gebruik.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Vinniger as Arende was hulle

Voshaar meisiekind

Sneeuwitjie van die Veld