Om oor te gee

 



Silwerseeaftreeoord,

Melkbosstrand

7437

24 Oktober 2045

 

Liewe Vandré,

Waar gaan ons hiermee begin? Twintig jaar verby wat ek oor dit dink en wonder. Toe gebeur alles gister …

Ons almal, ouma Wilmien, oupa Rian, pappa en mamma Ingke was bymekaar vir my verjaardag. Ouma het gevra dat ons na die begraafplaas gaan en eers mooi blomme op oumagrootjie Retha se graf sit. Ons het soveel gehuil, maar ook so dankbaar vir wat sy met ons gedeel het.

Mamma Ingke vra toe dat sy iets kan sê. Sy vroetel in haar handsakkie en daar in volkleur is jy! Nog net so groot soos ʼn ertjie maar ek sien al jou donker vel soos myne en die groen ogies!

Ons het so lekker gelag, baie gehuil en mekaar vasgehou want ons was so bly! Ons kyk op en weet Oumagrootjie lag van Bo saam ...

Net daar besluit ek om vir jou ʼn brief te skryf. Vir die oom Koos wat my dinge hanteer gevra om dit te hou tot jy twintig jaar oud is en wanneer jy mooi sal verstaan.

Vandré, ek gaan daarna na dokter Dewald en hy wys my die dinge wat hul gemeet het. “Oom, dit lyk maar sleg en die pad vorentoe gaan baie moeilik wees. Dalk ses maande maar niks meer nie.”

Vandré, op vier en negentig het elkeen sy deel gehad, ek en jy sal mekaar nie sien nie en daarom is die brief nou soveel meer wonderlik om aan jou te skryf.

Hoe gaan jou paadjie loop tot jy die twee en twintigste eeu gaan sien? Wie sal weet? Watter wonderlik dinge gaan gebeur? Ek hoop die slegste is nou verby. Die Wêreldoorlog III was vir ons so sleg en om te weet dat die mooie Europa en Asië niks van oor is meer nie.

Al die mense dood en die stede staan leeg. Hulle vertel die bestraling sal nog lank wees en niemand sal daar kan kom nie. Die Amerikaners is al weer op hul voete en gaan goed aan en hier onder kon ons dit alles vryspring.

Ek het al die fotos van die Mars landing en hoe hulle daar rond geloop en golf speel het! Sal pappa vra om vir jou te gee. Gaan die Uranus ene mis, maar jy sal dit alles kan beleef!

Liewe Vandré, nou wil ek mooi met jou praat, as jy nog nie verstaan nie, bêre die brief en lees later as jy ouer is? Dis net vir jou bedoel en jy mag vir niemand vertel nie. Ek weet jy sal nes ek wees en ek vertrou jou al die pad. Ek kan nie groet met dit in my hart nie, dit sal verkeerd wees.

Dankie liewe ding, by voorbaat!

Die lewe was mooi en ek kon amper tot nou toe nog voorbly. Nie sleg vir ʼn ou wat meer as sewentig jaar gelede al rekenaars met Fortran bewerk het!

“Rekenaar, wat is dit?” mag jy vra.

Sulke groot masjiene wat dinge onthou en somme maak. Toe word dit al kleiner tot jy dit in jou sak kon dra. Julle outjies sal heerlik daaroor kan lag, hoe outyds! Jy moet onthou, ons kon darem al vir iemand ʼn brief stuur reg om die aarde in 100 sekondes!

Almal het toe al hul dinge vertel en dit was so simpel om die goed te sien. Skreeusnaaks en ons het mos dit genoem, ‘Facebook’!

Ek het nog verlede jaar met die nuwe Xmenon stelsel kon raad gee. Hoe is daai?

Terug tot wat ek vir jou wil vertel en wat ek weet tussen ons sal bly. Vandré ook jy sal dinge beleef en dinge oor droom, Die lewe sal sy pad met jou loop, jy gaan baie foute maak en soveel suksesse hê. Geluk en ongeluk ervaar. Dalk wat ek jou sal vertel help hiermee?

Die mens se grootste krisis is energie. As ons net die waterstofatoom kan tem ... al in 1952, meer as 90 jaar gelede, die eerste bom ontplof. As ons dit net kan tem sal ons al die energie wat ons van kan droom uit ʼn glas water kan kry!

Alles het lank terug gelede gebeur, 2026. Vir jou sal dit ʼn ewigheid wees, vir my soos gister. Ek en oumagrootjie woon toe te lekker in Durbanville en jou mamma was ʼn klein dogtertjie wat heeldag by ons kom speel het. Ek sit natuurlik heeldag en krap waar ek nie moet nie op die outydse rekenaar.

Ek gaan draf toe die dag om te oefen vir die halfmarathon, by die dorp uit en net daar op die oop pad toe gebeur dit …

Daar staan ʼn hondjie, sommer so ʼn baster enetjie met ʼn mank beentjie. Ek stop en vra, “Wat is jou naam? … ek weet jou naam is, dis Buksie en jy gaan saam huis toe!”

Oumagrootjie was mal oor jou en hy het sommer net daar op die dubbelbed gespring. Kasper was eers kwaad, maar toe word hulle groot vriende en slaap saam tussen ons!

Ek kry toe die idee, dae lank daarmee geloop en geweet dat ek niemand kan vertel nie. Dit is net te groot maar weet dit kan gedoen word. Ek het iemand nodig om te vertrou. Iemand wat jonk en slim is.

Buksie en Kasper sit altyd saam op my skoot en ek verbeel my hulle praat met my toe sê Kasper, “Luister hier jou dom hond, hoe dink jy gaan ons …"

“Jy is nes alle katte, dink als behoort aan julle, hoor nou hier … "

Net daar liewe Vandré, kom alles bymekaar ... dit is alles in die trommeltjie by oom Koos se kantoor. Die sleutels is in sy brandkas ... 

Ek weet hoe om waterstof te tem ...  dit is joue om alles vir almal beter te maak. Jy sal beroemd wees, bly nederig. Jy sal skatryk wees, gee om ... doen dit !

En Vandré, vertel tog vir niemand wat gebeur het nie, maar die pad vorentoe gaan nou baie swaar wees, vir my maar veral vir die familie, ek gaan dit nie aan hulle doen nie.

Dokter Dewald het vir my pilletjies gegee en mooi verduidelik hoe dit gaan werk. Dit sal die regte ding wees om te doen ... ek weet oumagrootjie wag vir my en ons gaan weer heerlik lag!

Al my liefde, my trane omdat ek jou nooit sal sien, my vreugde om te weet jy sal alles verander! 

Oupagrootjie Van der Spuy

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Vinniger as Arende was hulle

Voshaar meisiekind

Sneeuwitjie van die Veld