Die grootste kersgeskenk
Die grootste kersgeskenk
VDS Brink
Meneer Kersvader,
Takbokstraat 1
Noordpool
0000
Liewe Oom,
Toe ek verlede
jaar skool toe gegaan het was juffrou Annie ons juffrou. Sy het my so mooi
geleer en nou kan ek al goed skryf en vir oom die briefie stuur.
Oom, juffrou het
so ʼn klomp witgrys hare gedra en sy het in ʼn klein huisie alleen buite die dorp
gewoon. Sy het altyd vir my geroep en gesê, “Lydia, jy is die mooiste en
slimste kind in ons skool, Lydia jy kan alles doen!”
Maar oom toe sê sy
ook dat ek elke jaar vir oom dingetjies maar kan vra. Ek het nie poppe en
bedjies soos die ander dogtertjies nie, net die goedjies wat die kerk elke jaar
bring, maar dit raak gou weg.
Oom Kersvader, dit
maak nie saak nie want weet oom, ek gaan mos eendag ʼn dokter word en dan sal ek
almal se hartjies bly maak. Ek mag mos oom?
Juffrou het toe
vir my klomp seëls en koeverte gegee sodat ek dit vir briefies aan oom kan
gebruik. Sy het ook vir my oom se adres gegee. Ek verlang soveel vir Juffrou,
sy is nie meer hier nie, sy is mos nou by Jesus ... en ek weet dat alles wat sy
vertel het waar sal word.
Al die kinders is
weg saam met vreemde mense wat hulle vir die vakansie kom haal het, net ek,
Sarel met die mank beentjie en Paul met die leep ogie het oorgebly. Nou skree
tannie Sara wat hier werk elke dag op ons. Hoekom oom?
Oom hoef nie vir
my poppe en bedjies te bring nie, maar as oom en die takbokkies met oom se mooi
slee opgestyg het en oom het almal se pakkies afgegee, dalkies kan oom hier ook
ʼn draaitjie kom maak.
Asseblief tog oom?
Oom, ek voel sleg
om vir oom so iets groots te vra, maar ek weet oom sal verstaan, ek wil net een
ding vir Kersfees so graag hê, net een ding oom...
Dalk ʼn Mamma vir
Kersfees ... ?
Liefste Groete,
Lydia Marais
Hoëveld
Kinderhuis,
Witbank
Suid-Afrika
1043
Geinspireer deur my projek met Adriaan Bergh, meneer
Suid-Afrika 2011, met sy wonderlike werk by die Jakaranda Kinderhuis.

Aangrypend. Ek raak sommer hartseer, soveel kinders kry so swaar. Baie mooi!
AntwoordVee uit