Alles is nie verlore



Malanstraat 7,

Riebeeck Wes,

7306

20 Julie 2013

 

Liewe Vriende,

Staan nou asseblief op, gaan na die naaste Woolies en kry vir jou ʼn bottel 2008 Allesverloren Danie Malan’s Backyard Blend. Verkoel tot so veertien grade, skink ʼn diep glas so driekwart en laat dit vir twintig minute asemhaal.

Gedoen? Is jy reg? Ruik hom, neem ʼn slukkie en kom ons dink saam ver terug ...

Een keer lank, lank gelede was daar twee seuntjies, die ouer enetjie was Jannie en sy maatjie was Danie. Hul het ure lank met kleiossies gespeel. Jannie het groot plase gebou, “Danie hoor my nou mooi, mens moet dinge altyd bymekaar sit.”

“Issie, Jannie, mens moet jou plase apart hou. Koeie eenkant, skape op ʼn ander plek.”

Hulle word groot, Jannie word ʼn prokureur, hy is so slim en gaan leer in Engeland. Danie word weer ʼn dominee en gaan leer in Utrecht in Nederland. Jannie kom terug en gaan werk by oom Paul ... die oorlog breek uit.

Jannie word ʼn generaal en leer elke dag by sy leier en mentor, Oom Koos. Met net honderd man val hy die Kaap Kolonie binne, al die pad tot by Saldanha en die beleg van O’okiep.

Die aarde verbrand en hy ontmoet Lord Kitchener in Kroonstad ... “Herbert we must surrender, please help us?”

Hy gaan terug na sy mense, “Medekrygers, ons veg tot die bittereinde, maar kom ons erken dit, dit is nou die einde, soveel meer bitter as wat ons ooit kon dink ...”

Die jare gaan verby en Danie trek die volk saam met hom, “Ons moet op ons eie wees!”

Jannie glo dat ons saam soveel sterker kan wees.

Hulle word die helde van twee groepe van ons land. Die groepe haat mekaar. Die jare loop aan en aan. Danie se mense wen, die Vierkleur wapper weer hoog en almal jubel. Jannie trek terug in sy sink huisie, verarm en verstote.

En toe ... koning George kondig hakkelend aan, “We, uh, uh, decided that, uh, uh, the new chancellor of Cambridge university is to be ...”

Hoe gaan hy daar kom? Die regering is eens soos een man, “Vergeet dit!”

Stil in nag die kom haal die ambulans hom, neem hom na die lughawe en hy vlieg na Londen, die wêreld juig hom toe want hy het vir ons ook die VVO gegee. Dinge moet saam wees!

Danie moet die korrupsie klag in die gesig staar. Die volk is verslae en sy ministers is woedend, “Doktor, hoe kon jy?”

En toe, duisende kom byeen en juig, vlae wapper, ons kan mos alles doen! Danie spreek hul toe, die voorsitter onderbreek hom en dra die nuus oor. Almal kom op hul voete, “Hoor! Hoor!”

Danie storm uit die saal, hardloop die nag in, gaan snikkend op sy knieë, “Here, hy was my enigste ware vriend ...”

En by die sinkhuisie, in sy katel bedjie, tannie Issie huil en lag, want in Jannie se slap hand in ʼn brief, “Liewe Danie, jy het alles net vir my gedoen, jy is die grootste vriend wat daar ooit was.”

Groete uit Allesverloren kelder hier in die skadu van Kasteelberg,

Julle Vriend ...

 

Dr DF Malan se graf is in Stellenbosch en Genl JC Smuts se as is gestrooi op Irene Koppie. Die dorpie het skaars 200 huise en die geboorte plek van die VVO en Afsonderlike Ontwikkeling. Allesverloren is daar en die wynmaker is Danie Malan.

 Dr DF Malan en Genl JC Smuts was ook nie perfek, maar ons kan soveel van hulle leer.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Vinniger as Arende was hulle

Voshaar meisiekind

Sneeuwitjie van die Veld