OM LIEFDE TE GEE

 




(Waarskuwing, bedtonele word duidelik hierin beskryf, ouderdomsbeperking van 25 en meer!)


“Gee pad hier jou vuil ding!” Woorde wat ek oor en oor in my lewe moes hoor. Uit gegooi en weg gejaag …

Die mans in my lewe was vele. Wittes, swartes, bruines en selfs ‘n paar geles. Elke keer flankeer hy en los my dan net so. Ek loop maar in die strate en krap rondom die vuilgoedblikke vir ietsie om te eet. Toe is hy daar. Sulke lange bene en ‘n breë glimlag, sy naam was Brutus.

Hy was maar knorrig en jaag almal weg wat dit waag om naby te kom en wys my waar lekker eetgoed is. Wat ‘n ou! Wel ... toe gebeur dit, ek verwag! Tot Brutus dit hoor, hy gee my net een vuil kyk en weg is hy ...

Dit was baie swaar, alleen op die strate, my magie wat swel en swel. Toe een dag skielik is hulle daar, ‘n drieling! Hulle was so mooi en ek doop hulle net daar, “Mia, Lara en Kasper!”

Daar kom toe mense een Sondagoggend. Hulle sien my en die babas agter die vuilgoedblik lê. “Kyk daar die arme goed, ons moet hulle red!”

Hulle kom en vat die drietjies weg, laai in die bakkie en ry weg … My hart het gebreek, alleen gelos daar tussen die vuilgoed … al weer. My kinders nooit weer gesien nie, wonder wat van hulle geword het, leef hulle nog? Is hulle gelukkig?

En toe een dag stop daar ‘n groot swart kar, en die bestuurder klim uit met ‘n sak vuilgoed. Hy gooi dit in die houer, hy sien my, “Jy kan nie net so hier lê nie, kom saam!”

Hy tel my op en laat my op die agterste sitplek lê. Ons ry en ry en stop voor ‘n groot huis. Hy dra my in en bel, “Koos, dis Pieter hier, ek het iemand hier wat dringend gehelp moet word. Kan jy asseblief jou ondersoek tas bring, jy moet na haar kom kyk.”

Koos kom en druk dinge aan my en in my bene en rug, “Gee haar mooi kos, hou haar warm en sy sal reg kom. Ek kom elke tweede dag om nuwe medisyne te bring."

Ek voel elke dag beter en die kos is heerlik. Op die tafel staan 'n prent van 'n vrou, sy is so mooi ... Pieter kom sit by my en hou my hand vas, “Ek gaan jou ‘n nuwe naam gee, jou naam is nou Thandi, die Xhosas se mooiste woord wat beteken ‘om liefde te gee’ … ”

Hy bly lank stil en daar loop trane oor sy wange, “Thandi, dit is nou vyf jaar wat Annemarie hemel toe gegaan het. Ek verlang soveel na haar, ek is so alleen."

Hy bly lank stil, "Uh ... uh .. sal jy van nou af saam met my kom slaap?”

Wel daar het jy dit, elke aand lê ek styf teen hom, hy snork nogal erg maar dit is alles so lekker!

Hy kom die dag laat van die werk af, hy lag te lekker en in sy hand is ‘n groot boks met ‘n rooi hart op! “Thandi my liefling, jy het my hartseer soveel makliker gemaak en dis Valentynsdag! Kyk net wat het ek vir jou gebring!"

Net daar begin hy dit oop skeur, weet julle wat was binne in? 'n Groot pak biltong en om dit die mooiste halssnoer met ‘n goue bordjie waarop staan, “Thandi.”

Ek is so bly en begin in sirkels al om hom hardloop en blaf kliphard. Heen en weer, heen en weer met my lang stert wat swaai en swaai!

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Vinniger as Arende was hulle

Voshaar meisiekind

Sneeuwitjie van die Veld