Vang die Son

 


Die groot horlosie tel "100, 99, 98 … " Die wêreld is daar, honderde kameras reg vir die groot oomblik. Almal is by die MeerKat radioteleskoopbasis en hou hul asems op.


Lana in haar ruimtepak, sy sweet in die nou ruimte en weet dat elke moontlike droom waar geword het. Pieter en die kinders, Susara en Jannie, staan met hul kameras hoog in die lug, hulle is so trots.


“Mamma jy gaan dit doen!” was Susara se laaste woorde.


“Mamma ek is lief vir jou, kom gou terug!” roep Jannie toe weer te hard sodat almal omkyk!


Lana wonder, “Hoekom is sy ogies so rooi vandag?”


“Pieter jy moet tog dok Koos vir ons weer kyk. Ek is bekommerd oor Jannie.”


“Lana, ek sal hom môre neem. Kom jy net weg!”


“Outjies, net tien dae dan is ek terug!”

 

Sy dink terug aan die jare opleiding, die twee doktorsgrade, hoe om haar werk te doen en ook ʼn mamma te wees.


Nou die groot dag. Die presidente van die ons land, Amerika, Rusland, China is daar, maar die heerlikste was Prins William se woorde, “You will be the first person to do it again. Lana Marais, we are so proud of you!”


Biljoene kyk na hul skerms, “ … five, four, three, two, one, zero! … We have a lift off!”


Sy weet wat om te verwag, die reuse vuurpyle ontvlam en die vaartuig skiet die hemel in.

 

Dit is skielik doodstil, die pragtige blou oseane onder haar sink weg en die grys maan wat nader kom. Tyd om die pak briewe te lees!


“Mamma, ek is so trots op mamma. Jy is alles … Susara."


Sy lees een na die ander en hou die spesiale ene vir heel laaste. Sy lag vir die spelfoutjies en die skewe letters, “Kyk tog of mamma vir my die son sal kan vang, daar is ʼn plekki in my kamr waar ek die son kan hang!”

 

Die see van kalmte onder haar, al die groen liggies brand helder en die plan werk perfek. “MeerKat Base, I am ready for landing!”


Sy stryk neer skaars honderd meter van die staal struktuur. “Meerkat, this Tranquillity base, it is fifty years later and the Eagle II has landed!”


Nog ʼn sprong vir die mensdom en sy stap nader en kyk verwonderd na die voetspore, nou reeds dekades oud, steeds duidelik in die sand.


Sy neem monsters, stel die toerusting op en dit word tyd om te gaan eet en rus. Die deur sluit en toe … etlike rooi liggies flikker verwoed. “Meerkat! We have a situation zero six! Help!”


Sy voer elke opdrag uit, elke stap uit die boek, maar tevergeefs. “Lana, you are stranded. We will send the rescue craft immediately, but be ready for a twenty day delay! ... Lana you are not alone … ”


Die batterye word pap, alle kommunikasie daarmee heen. Jannie se gesiggie bly in haar gedagtes, iets is verkeerd … hoekom het sy ogies so gelyk?

 

Die reddingstuig kom veilig aan, die oorskakelingsproses soos beplan en Lana vertrek. Die reuse aardbol skuif al nader, die blou oseane en die Kaapse Skiereiland nou mooier as ooit tevore. "Ek kan nie wag om hulle vas toe hou nie! Dink net hoe gaan Jannie vir my lag!"


Die landing net buite Saldanha, die water spat hoog, alles oor en die sending suksesvol. Op die kaai staan duisende mense en almal juig. Heel voor Pieter en Susara.


“Waar is Jannie dan?”


 

Hul hou haar styf vas en ruk van die snikke. Pieter gee vir haar ʼn pienk koevertjie. “Lana, sy laaste briefie voor die siekte alles oorgeneem het.”


Sy lag van oor tot oor met trane oor haar wange loop, “Liewe Mamma, ek weet mamma het vir my die son gaan steel, want daar’s ʼn plekki in ons tuin waar ons met die son kan speel!”

 


Sy staan op haar knieë en lees oor en oor die woorde op die kiaathout kruis, sy sit sag die briefie vir hom tussen dit waarvoor hy so lief was ... Bokbaaivygies ...


“Liewe Jannie jy was maar net twintig, jy bring ʼn lig vir die draaie op my pad, en ʼn handjie vol strale vir die donker in my hart … sal jou soveel mis. Ek weet jy is nou gelukkig want jy hoort daar ... ons Hemelkind …”

 


Erkenning aan James Roux en sy wonder storie, “Janneman”. Ook van Valiant Swart met sy pragtige lied, “Sonvanger”. Die woord “Hemelkind” van Fanus Rautenbach met sy wonderlke werk op Down Sindroom. Die MeerKat sterrewag word tans naby Carnarvon gebou.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Vinniger as Arende was hulle

Voshaar meisiekind

Sneeuwitjie van die Veld