Uit ʼn ander Wêreld



Een nag, in die middel van die winter, met ʼn ysige wind uit die suide, in die vroeë oggend ure, word Pietertjie wakker. Hy kyk deur die venster en al die ligte skyn langsaan is vir die eerste keer ...

Die tuin is pragtig, die gras gesny en die rose in volle blom, maar tog het die huis langsaan jare leeg gestaan. Gordyne is toegetrek, geen mense ooit daar gesien nie.

Nag na nag word hy wakker en dan is dit so, tot een keer ... sy staan net daar, donker hare, bruin sluimerende oë, amper soos ʼn sigeuner. Elke keer kyk sy vir hom, glimlag effens en waai selfs. Sy neem sy drome oor ...

“Wat is haar naam?” wonder Pietertjie, “kan dit dalk iets soos Anastasia wees?”

Sy was uit ʼn ander wêreld, dalk van iewers vêr, dalk uit ʼn ander tyd? Sy huis is sy veilige hawe, sy wonderlike ouers en veral die middernagtelike kykies oor die heining na Anastasia is al wat hy voor leef.

 

Hy is skaars twaalf jaar oud en Anastasia is sy groot geheim. Dit te kosbaar en sy skans teen die brutale aanslae in sy lewe, want elke dag in die skool ʼn nagmerrie met alles moontlik wat verkeerd gaan. Net sy goeie punte in Wiskunde kan effens opmaak.

Klein, lelike bleeksielietjie en sy grootste vrees, Johnny Beyers die boelie. Hy het altyd geweet waar om hom in ʼn hoek te druk, te stamp in sy maag en seer te maak tot vreugde van sy groot vriend, Danie de Kock. Danie hou hom vas en Johnny slaan, oor en oor.

Dit het begin met ‘n stampie as hulle tou staan. Die twee is al in standerd ag en speel vir die eerste span, al twee in die voorry. Meneer Hanekom vertel vir almal, “Johnny en Danie gaan Craven Week toe volgende jaar al!”

Na skool dan sit die twee by Meneer in sy klaskamer met die deur toegetrek agter hulle en almal wonder, “Waarvan praat hulle?”

Pietertjie se pappa is ook die dominee. Hy is stil en eenkant met sy telefoon wat heeltyd lui. Die ooms van die kerkraad kom een vir een en dan hoor Pietertjie hoe skree hulle op pappa, “Hoekom?”

Ooms Piet de Kock en Koos Beyers kom amper elke tweede dag en die woorde dreun uit pappa se kantoor, “Dominee, hoe kon jy? Drie Bloedsappe nou ook in die skoolraad waar jy voorsitter is!!”

Dan elke Saterdagaand draai die rook wolke uit Meneer se agterplaas, Oom Piet en Oom Koos se bakkies altyd staan daar …

 

Aand na aand presies drie uur word Pietertjie wakker, hy trek die gordyn weg en daar oorkant wag sy vir hom, Anastasia en sy glimlag so mooi en waai weer en weer vir hom …

 

Dis ‘n lekker mooi lentedag en Danie en Johnny sit om die draai van die skool se ablusieblok. Die Stuyvesant dwaal in die lug!

“Danie, dis darem lekker jong, ons twee kan rook soos ons wil en Meneer Hanekom sal nie hier kom kyk nie!”

“Ja so maklik want al wat hy vra is dat ons daai Pietertjie af en toe lekker moet op donner! Ek wonder wat is sy storie met die mannetjie?”

 

Koos, Piet en Nico Hanekom gooi elkeen al weer ‘n groot Klippies en Coke en suig diep daaraan.

“Ouens hoor my nou mooi en julle vra geen vrae nie, het julle my?” Nico suig diep aan sy pyp vol Springbok twak, “Julle seuns sal dominee se mannetjie opneuk en gereeld ook!”

“Reg so Nico,” Koos draai die tjops om, “Maar hoekom?”

“Wat ek nou vir julle gaan vertel bly jy stil, reg so?” Nico haal diep asem, “Dominee heul met die Bloedsappe en die Broeders is baie omgekrap daaroor. Ons moet van hom ontslae raak en al manier is om dinge rondom hom oor en oor aan te krap. Die Pietertjie mannetjie is die ideale teiken!”

 

Die maande gaan verby, Johnny en Danie stamp hom oor en oor en die ander kinders lag terwyl die meisies weg kyk.

Pietertjie vra Meneer om klas te verlaat en stap gou na die ablusieblok toe.  “Vreemd?” dink hy, “dit ruik dan na rook?”

Toe hy instap klap die deur agter hom toe en daar staan die twee, “Jou klein bliksem, nou het ons jou!”

Danie gryp hom en hou hom styf vas, Johnny stap stadig nader, “Nou gaan jy boet jou klein vark!”

Hy slaan hom in sy maag, die pyn is verskriklik, oor en oor tot die genadige donkerte oor hom kom. Hy word stadig wakker, iemand skop hom, dis Meneer, “En vir wat lê jy hier? Staan op en gaan klas toe!”

“Nee wag eers,” stadig kom sy hand agter sy rug uit, die lang rotang in dit, “Staan op en buk, nou!!”

Een vir een, tien van hulle klap die houe, Pietertjie huil en pleit, “Nee Meneer dis baie seer!”

Skielik is dit doodstil, net hy bly oor, staan en kyk na homself in die spieël, “Wat dan nou?”

 

Dit is Vrydagaand, sy ouers weg na die Vroue Sending Bond se vergadering. Pietertjie speel met Kasper sy ou dierbare gemmerkat en vryf sy rug. Kasper gesels, “Dormm, dormm!”

Die voordeure klokkie lui, “Wie sal dit dan nou wees, niemand kom tog ooit met my speel nie?”

Hy maak dit oop en Johnny en Danie storm in.

“Jou klein vark!” skree Johnny terwyl hy rook in sy gesig blaas. “Wie is jy om altyd van ons gekke te maak met jou goeie punte?”

Danie gil, “En jou pa help die Bloedsappe, wie dink julle is julle?"

Hulle gooi hom op die vloer en skop in sy maag. “Dit sal vir jou ʼn les leer!”

Die houe hou aan en aan en die seerkry verskriklik.

Die deur kraak stadig oop en sy, petite klein, stap in. Nee ... dit lyk eerder asof sy insweef. Sy dra ʼn kleed met ʼn kappie, amper Middeleeus. Sy loop reguit na Johnny toe, haar bruin oë gluur.

“Wat het ons hier?” vra hy met ʼn breë wellustige glimlag. “Wat ʼn beauty! Net waarvoor ek voor so lank gewag het!”

Hy gryp na haar, maar sy klap sy hande weg, slaan haar arms om sy lyf en slinger hom oor die vertrek. Hy tuimel paar keer deur die lug voordat hy die vloer tref en net daar bly lê. Bloed syfer uit ʼn wond aan sy kop en sy linkeram is skeef onder hom ingevou.

Sy stap na Danie, hy kry ʼn vuishou in die maag en toe hy dubbel vou breek haar knie sy neus, hy probeer wegkom, sy gryp hom aan sy voet, tel hom kop onderstebo op en slinger hom by die voordeur uit. Johnny smeek om genade ... om met een klap die muur te tref.

 

Sy kom na Pieter toe, kniel by hom, droog sy trane af en hou hom lank vas en kyk met daardie sagte bruin oë. Sonder ʼn woord staan sy op en verdwyn in die nag. Hy weet dat hy haar nooit ooit weer sal sien nie, sy sal altyd ʼn kosbare herinnering wees, sy was uit ʼn ander wêreld ...

 

Want langsaan, een vir een, vir laas, doof die ligte uit ...


Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Vinniger as Arende was hulle

Voshaar meisiekind

Sneeuwitjie van die Veld