Tussen treine, tussen stasies
TUSSEN TREINE TUSSEN STASIES
VDS Brink
“Elke
keer was dit ʼn afskeid, elke keer weer ʼn begin, ʼn honderd haltes langs die
spoor, elke stasie het sy eie skim.”
Die sekelmaan hang stil in die weste, die blare van die bloekoms hang stil.
“Jy kan maar blaas ou Pieter, die groen vlag waai al!” sê Koos.
Pieter trek
die ketting in die dak en die skril fluit weergalm oor Hutchinson stasie. Koos
trek die hefboom en die 25C begin stadig vorentoe kruip, die Trans Karoo agter
hom met die slapende passasiers. Voor op die rook deflektors staan met trots en
blink ge-Brasso, “Annemarie”
Gou-gou wys
die spoedmeter vyftig myl per uur.
“Nog vyf om
te gaan dan is ons daar!” sê Koos. “Pieter gee nog so bietjie gas jong, ek maak
vir ons koffie!”
Pieter neem
die graaf en skep diep en gooi vêr in die vuurkas. Die ag reuse wiele klip-klap
op die laste. Koos kyk uit na sterrehemel soos jy net in die Roggeveld sal
sien. Biesiespoort kom nader, die sinjaal is op en die nag voorman staan reeds
gereed op die platform om die ring aan te gee.
“Hallo
Johan!” roep Koos vrolik.
“Mooi ry
oom!”
Pieter weet
wat nou gaan gebeur, almal in De Aar lag mos daaroor, sit sy graaf neer en leun
saam met Koos by die venster uit. Net hulle by die koppies anderkant die van
die stasie verby ry en die dowwe lamplig in die plaasopstal mooi sien, val hy
luidkeels saam met die oom in, “My oom se motor is ʼn ou masjien ... stuur
groete aan Mannetjies Roux!”
“Lekker
slaap ou Mannetjies en tannie Charlotte!” roep Koos in die nag.
Die 25C, sy
paf-paf mos nie, want C staan vir “condenser”, loop heerlik en navigeer die
smal spoor met al die wysheid van haar vyftig jare. Dit word skemer in die
Ooste, Drie Susters reeds agter hulle en die reis byna verby.
Hulle maak
die wye draai om Beaufort se dam. “Weet jy Pieter, dis net hier waar Dokter sy
dogter leer ski het ...”
Die pale
verskyn weerskante van die spoor, die dik draad hang oor hulle. Toe hulle
Beaufort binnegaan, die geklik van die wielslaners weerklink ... en dreigend
staan die blinknuwe 6Es geparkeer.
“Pieter, ek
belowe jou niemand sal ooit ʼn draadkar ʼn naam gee nie,” sê Koos verbitter.
Koos en
Pieter haak af, rangeer tot by die skuur, draai vir Annemarie om en blaas af.
Nou gaan rus om vanaand weer terug huis toe te gaan. Huis toe ... vir die heel
laaste keer.
Koos en
Annemarie sal saam moet gaan. Sy na die skrootwerf se genadelose sweisvlam en
Koos sal weer alleen oorbly. Weer alleen met net sy hoenders in die agterplasie
en die ou drywers wat altyd bymekaar staan.
Koos maak
sy kosblik oop, daar is ʼn bossie wit rose, vir die laaste keer stap hy na die
ou kerkie in die hoofstraat, kniel by die graf en soos hy al die jare doen, en
sit wit rose op die graffie van Dokter.
Die volgende oggend, baie vroeg, stap hy weer met nog bossie rose na De Aar se kerkhof om vir haar te gaan gee, nou reeds vyftien jaar van hom weggeneem, om weer en weer te gaan huil oor ... Annemarie.
ʼn Lewensskyfie van iets wat verbygegaan het. Erkenning aan Richard van der Westhuizen, Lochner de Kock en Laurika Rauch se lirieke, die fotos is by Rovos Rail in Capital Park, Waterval Onder en Beaufort Wes geneem. Die 6E is ʼn iStock foto. Die rolprent Roepman en my vele ritte van Hutchinson na die kosskool in Kaapstad as inspirasie.


Opmerkings
Plaas 'n opmerking