Skoppensboer

 


Weet jy waar is Daggafontein? Kom laat ek nou vir jou bietjie vertel.

Doer ver in die Noordweste halfpad tussen Kenhardt en Carnarvon. Die ooms maak dit mos net nie, die Gunston en die Merino boudvleis eis vroeg hul sy tol en dan bly net die tannies oor.

Hier rond, as jy lus is vir groente, slag jy gou ʼn vark!

“Sara, deel vir ons,” sê Helena terwyl sy nog ʼn sluk Klippies en Coke neem.

Tannie Annie bekyk die spulletjie deur haar derde glas K&C terwyl Lydia met haar tone deur Boela se nekhare vroetel. Boela kreun van die lekkerte en strek homself lank uit. Kasper weer lê sommer soos altyd tussen die munte en kaarte en spin saggies.

Sara sit die twintigste kaart neer. “Reg! Die eerste bod is op jou, Annie.”

Annie skuif breed en moeisaam rond op haar stoel, haal diep asem en die eerste vyf rand val op die tafel! Hier speel ons groot en vyf rand munte die heersende wisselkoers.

En toe ... geluidloos met ʼn stadige sirkel beweging kom dit te lande net langs die hoenderhok, so stil dat selfs die ou rooi haan net sy kop skud. Bontrok maak net haar een oog oop en weer toe, jy moet verstaan dis darem al laterig.

Binne gaan dit te jolig en die K&C praat al harder en vinniger.

 

Die reuse pers Varadox swymel nader, stop ʼn oomblik om die regte taal op sy ruimte kommunikasie toestel te kies en sleep doelgerig nader. Hy kyk oor die oop bodeur en prewel in metaalagtige Afrikaans-Nederlands, “En wat gaan hier aan!!?”

Die dames vat elkeen nog ʼn goeie hap uit die melktert, sluk dit af met K&C en kyk gesteurd op na die ronde gevreet met die groot pers oog in die middel.

“Wat is jou storie jou lelike ding?” vra Sara, “kan jy nie sien ons is besig nie? Gaan vlieg terug in jou moer in, hoor jy my?”

Jy moet verstaan die heelal vrees hom en sy mede Marsgenote. Jy praat net nie so met hulle nie. Varadox skop die onderdeur aan vlarde, die hout stukke spat in vele rigtings. Die tannies kyk nie eens op van hul kaarte nie en Varadox begin sy humeur verloor.

Sy groot pers oog blits van woede en hy haal stadig maar seker sy Super 8 Laser wapen uit, knip die veiligheidsknip oop. Hy haal oor, die vuurtong gemik op die plooi tussen die arme Boela se ore ...

Boela gee ʼn snork.

“Julle bliksems!” gil Annie, “ek het hom! Skoppensboer straight flush! Betaal ouens, betaal!”

Sy staan triomfantlik op, neem ʼn diep sluk K&C, vat die koekroller stewig om op die tafel te slaan en so haar oorwinning te vier. Sy haal oor en agter haar rug slaan sy Varadox tussen sy twee bloedrooi lang punt ore, hy rol bewusteloos by die deur uit.

Die laser wapen lê eenkant, hy maak sy oog oop. Boela staan met al vier voete bo-op hom, al wat Varadox sien is daardie vreeslike slagtande.

“Helllp ... helppp ... !” prewel die arme ou vir laas.

 

Geinspireer deur Eugene Marais: “Die een wat deur die nag, ons pret beloer, en laaste lag is Skoppensboer.”


Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Vinniger as Arende was hulle

Voshaar meisiekind

Sneeuwitjie van die Veld