Reik na die sterre
Die groot sekelmaan skuif
verby, Lydia kyk deur die klein ronde venstertjie met verwondering, “Sover nog
om te gaan, gaan ons oorleef en wat dan?”
Sy is saam met Igor,
Jacques, Heidi, John en Gabriella uit miljoene aansoekers gekies, op pad na die
mens se grootste prestasie ooit, die landing van mense op ʼn ander planeet.
Sedert 2035 vir tien jaar
lank beplan en gebou. Onder leiding van Die Bevelvoerder-in-Beheer met die
flikkerende liggies, BIB 2044. Gaan dit werk? Sewe biljoen mense kyk na hulle, sewe
biljoen asems optrek en net nog veertig miljoen kilometer vêr om te gaan.
Haar gedagtes dwaal terug na
haar dierbare oupa Kobus, altyd met die getroue Boela by hom, wat haar soveel
van die mooi dinge van die verlede kon leer, sy vee weer die trane af …
Daar by sy huisie in die wye
mooi vlaktes van die Suid-Vrystaat, as oupa praat dan swaai Boela se dik stert!
Na die jare se opleiding bly dit vir haar die alles afskakel plek en om weer
haarself te vind. Om stilte wees, te huil oor wat sy verloor het, te lag vir
Oupa se snaakse dinge!
Oupa maak so laat middag ʼn
vuur, die son sak stadig weg en alles is so mooi. Ouma Sannie bak broodjies en
Boela hardloop in sirkels! Oupa skink ʼn rooi wyntjie, stop sy pyp met Springbok
twakkies en hulle kyk hoe die son wegsak oor die horison, “Lydia, ou Pik Botha
het altyd gesê, ‘julle Vrystaters is so anders, julle dink vêr en wyd want
julle het nie horisonne nie!’ ”
Dan maak sy met Oupa en Ouma
soveel stories, Oupa bid, “Liewe Here dankie, dankie dat U vir Lydia vir ons
gegee het. Sy is die salf op ons hartseer nadat Pieter en Annemarie hemel toe
is …”
Hul vee hul trane af, hou
mekaar styf vas en Lydia weet net dat Pappa en Mamma uit die hemel nou na hul
kyk …
“Lydia, ek wil vir jou woordjies van die ou
mense leer. Die mooiste van almal, die Sothos se naam vir die môrester, Naledi.
Die oudste dogter kry altyd die naam.”
Dan wys Oupa vir haar die
helder planeet in die ooste en dit word vir haar iets van hoe die hemel moet
wees …
Gabriella is altyd vol
glimlaggies en maak grappies … maar Heidi word al meer nukkerig, Jacques mompel
in Frans en John dink weer hy weet alles. Almal weet dat Igor wodka teen die
reëls saam gebring het.
Die suurstofmeter wys ʼn wanbalans.
Dit is die een ding wat nie verkeerd mag gaan nie ... “Weet julle
hiervan?" vra Lydia tydens ete.
Almal kyk haar aan asof sy
van Mars kom en wonder of sy mooi verstaan. John kyk dikmond op, “Ag Lydia jy
weet duidelik niks, ons weet almal hulle het jou net hier gesit omdat een darem
ook uit die Suidelike Halfrond moet kom.”
“Ag nee John,” lag
Gabriella, “Lydia is nogal oulik ten spyte van haar afkoms!”
Lydia is al so gewoond aan
die gespot en sy maak asof sy dit nie hoor nie. Een vir een dryf hulle af in
die tonnel na hul beddens toe. Lydia maak haar vas aan die bed en bly net
wakker. Hier moet jy jou vasmaak anders sweef rond jy terwyl jy slaap!
Toe hulle almal slaap werk
Lydia deur die stelsels, met haar doktorsgraad in elektroniese ingenieurswese
ken sy bykans elke dingetjie in die vaartuig. Sy sien dit en gaan reguit na BIB
toe. “BIB meet jy ook asseblief by eenheid sestien, hier is groot fout!”
Dit neem BIB sekondes om
alles te meet en hy is ewe bekommerd. “Lydia, ek dink hier is iemand wat besig
is om iets te breek."
“Maar hoekom dan, BIB?” vra
sy.
“As ons daar aan kom, julle
almal die glorie gaan deel ...”
“Ja, maar dit is mos soos
dit moes wees!”
“Ek ken mense, dit vat ʼn nie-mens
om julle te verstaan," sê BIB terwyl sy liggies opgewonde flikker, “Een
van julle wil alleen daar afklim ...”
Lydia word baie bang en
besef BIB is reg. Hier is ʼn moordenaar aan boord, maar wie? Die arrogante
Jacques, die dikbek John of die vloekende Igor? Dit kan tog nie die blonde
Heidi of die dierbare Gabriella wees nie!
Lydia en BIB besluit om saam
te werk. Daar is min tyd, nou net twintig miljoen kilos oor voor hulle daar kom.
Lydia wag tot elkeen slaap en soek rond. Sy hou haar suurstof silinder reg. Sy
snak na haar asem en suig aan die pypie.
Oor en oor kom die pyn in
haar hart terug, skaars ʼn maand voordat hulle sou opskiet het Ouma gaan kuier
op die dorp by Huis Herfsblaar en haar sussie, tannie Anna.
Oupa en Boela was alleen op
die plaas toe gebeur dit … hulle breek die deur af en storm in, die pangas
swaai en dis bloed en nogmaals bloed …. Hoekom? Hoekom? Hoekom?
Sy dryf versigtig weer deur
die kajuite … Jacques, Igor, John en Heidi lê in hul banke, leweloos ... waar
is Gabriella? Die badkamer deur is toe.
“Gabriella is jy daar?
Gabriella is jy ok? Gabriella!”
Die deur swaai oop!
“Non si muovono! Staan stil!
Ek gaan jou vrek maak as jy naby my kom!”
Die vuurtong spat, Lydia
duik agter die kas in.
“Gabriella!” skree BIB, “ek
gee jou vyf sekondes om jou wapen neer te sit!”
“BIB, ek is reg vir jou! Ek
gaan net jou krag afsit, Lydia vrek skiet en al die eer is myne ... die
geskiedenis behoort aan my!”
Sy verstar in haar spore, sy
sluk paar keer en val op die vloer, ʼn donker rooi vlek sprei op die mat.
“Mi dispiace, ek is so
jammer Gabriella, maar ek moes dit doen,” stotter BIB 2045 en sy liggies
verdof, “ek kon nie anders nie ... ek huil saam met jou mamma in Milaan ...”
Die landing is suksesvol op
die suidelike kontinent van Venus wat vernoem is na die Godin van Liefde,
Aphrodite.
“BIB, kyk net hoe mooi is
dit!”
“Lydia, jy is ʼn wonder mens,
jy verdien dit,” sê BIB en sy liggies nou ʼn sagte groen, “Jy gee net liefde en
verdien wat nou gaan gebeur ... hierdie oomblik is joue, gaan doen wat jy moet
doen, gaan staan op Aphrodite!"
"Dankie BIB, dit is
alles net aan jou te danke."
"En Lydia ... onthou
wat julle skrywer, Langenhoven, in julle pragtige taal gesê het, ‘Deur twee
dinge is my lewe vir my leefbaar gemaak; die liefde wat ek gegee het, en die
liefde wat ek gekry het.’ Selfs vir my met my blik gesig is jy ook lief!”
Lydia klim stadig teen die
leer af, die hitte intens, dit is honderde grade buite, sy gee een klein
treetjie en weer ʼn reuse sprong vir die mensdom, sy gaan op haar knieë, sewe
biljoen kykers volg elke beweging.
Sy plant ʼn klein Mopaniehout
kruisie en begrawe die botteltjie as in die warm sand.
“Oupa Kobus: 23/10/1961 – 7/7/2044 Boela: 2034 - 7/7/2044”
Lydia snik, “Oupa en Boela,
julle moet sag rus hier, hier jy waar jy altyd wou wees, vir wat jy die meeste
bewonder het, hier op Naledi ...”
Idees gebou op Arthur C Clarke se “The Sentinel”, BIB 2044 baseer
op HAL 2000 in die boek en die Mars landing van Curiosity onder leiding van ons
Dr Japie van Zyl.

Opmerkings
Plaas 'n opmerking