Ons kan ALLES doen!

Satire


Ons is vandag, Vrydagoggend, by die AfriSake lansering. Ons is hier in nuuste en blinkste uit die toonaangewende Afrifokus-Solidariteits stal.

 

Ons is hier in die blink nuwe teater in Lynnwood.

 

Ons staan by iemand wat ons ken, praat nie eintlik nie, maar die van ons wat aan die Tukkies-Sonop-old-boys-klub behoort staan naby mekaar en beduie driftig terwyl ons hard praat.

 

Ons sprekers sit reeds op die verhoog, hoofuitvoerende beamptes van groot instellings ... wel gewese HUBs ... hulle weet alles ... hulle dra rooi dasse, wit hemde en pikswart pakke.

 

Ons dra Italiaanse skoene, navy blou baadjies en daar is ʼn iPhone IV in die Levi se sak. Hier is vandag meer Pringle en Jeep hemde per kop as by Angus se vorige Mighty Men byeenkoms.

 

Ons het hier gekom met net die beste en nuuste uit die Duitse motor stal. Die paar ouens wat nog met Prados moet ry het om die draai parkeer sodat niemand dit moet tog sien nie.

 

Ons woon in ʼn estate en die pad voor ons huis is ʼn boulevard of ʼn avenue.

 

Ons braai steeds pap en wors, maar drink nou Cabernet daarmee saam.

 

Ons kinders gaan skool in ʼn Kollege en ons het ons MBA in ʼn Skool gaan doen.

 

Ons gaan Saterdag vroeg Loftus toe om vir die skeidsregters luidkeels die reëls te gaan leer, dis krities belangrik, dis bulletjie rugby.

 

Ons voorouers het twee keer kaalvoet oor die Drakensberge geloop, die Engelse beveg. Almal suid van die Vaalrivier is sissies.

 

Ons gaan kerk toe en daar parkeer ons met een wiel op die sypaadjie, die parapleë se plek, reg voor die deur want ons is haastig het nie tyd om te mors nie. Hier is alles modern en perfek, daar is ʼn Bovertrek, die dominee staan nie meer op ʼn kansel nie en sy beeld word reusagtig agter hom vertoon, sy stem in surround sound. Terwyl hy met die Here praat skuif die orkes hul toerusting luidkeels op die verhoog rond, mense kom en gaan.

 

Ons verwens die plakkerskamp reg langsaan, hoe durf hulle? Die regering is ook heeltemal useless deesdae.

 

Ons het almal Weskus eiendom, maar nie nou tyd om daar te bly nie.

 

Ons kan enigiets doen!

 

... ons linkerhande is weggesteek in die Levi se sak ... ons onderlippe bewe ...


Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Vinniger as Arende was hulle

Voshaar meisiekind

Sneeuwitjie van die Veld