Koshuiskaskenades - VDS Brink
“Ek kan dit nie meer vat nie!” sê ou Hansie, “Ek het my mense ses maande laas gesien, dis unfair!”
“Ag,
ek is so jammer vir julle Rhodesiërs tog. Wat soek julle hier in die eerste
plek?”
“Luister
Herman, ek bring elke keer ʼn dosyn Playboys en Penthouses. So hou op kla!”
“Sjoe
en julle koop dit net so daarin die winkels! Wat ʼn land!”
“Ag
jaa…”
Welkom in Huis AJ van der Merwe (wie op aarde was hy?) hier teen die hange van Leeukop, dis eindeksamen tyd en die standerd ags en tiens kry nie afnaweek nie.
Ons moet leer! Toe gebeur die wonderwerk, ou Klaas praat oor die tiekieboks en vroetel met sy kas sleutel in die slotjie. “Gwhaaa!” Daar val die hele geldkis uit! Die goeie nuus trek soos ʼn veldbrand en al 95 van ons maak gou vir ons duplikate.
Sien dan werk dit so, jy sluit dit oop, haal die geldkis uit en dan gooi jy net die muntstuk in en vang dit weer as dit uitval. Maklik en verniet!
Nou
loop baie idees rond oor wat om alles hiermee aan te vang en die meesterplan
word gebore, hou jou hart vas!
Al die matrieks, so vyftien van ons, staan rondom die tiekieboks. Die ou wat mooi sing en mooi praat, Johan, het die telefoon stuk in die hand.
Ons kies sommer
enige nommer in die foonboek.
“Goeie
naand! Is dit mevrou Viljoen?” vra ou Stemmet vriendelik.
“Ja
…?”
“Welkom
mevrou! U is nou lewendig op Springbokradio se Surf Show Pick-a-Box!”
Daar
is ʼn geskokte stilte aan die ander kant …
“Mevrou
ons het drie vrae en as u al drie reg het, wag daar vir u ʼn splinternuwe Ford
Capri XL Super by Mike Jones Motors in Seepunt! … Is u reg?”
“Uhm
... uhm .. ja?”
“Wel
die klem is die op die letter “B” vanaand. Watter beroemde komponis is vanjaar
tweehonderd jaar oud? Mozart, Bach of Schubert?”
“Bach
natuurlik!”
So
gaan die veldslag aan en sy antwoord al die vrae seepglad.
Johan
waai vir ons en ons tjeer luidrugtig. “Veels geluk! Die Ford is u sin en u kan
die Maandag by Mike Jones gaan kry!”
Ons
werk deur die telefoonboek en dosyne dom kapenaars wen die een motor na die
ander. Al verloorder is die Poskantoor wat nie ʼn sent inoes nie maar wie gee
om?
“Watse
lawaai is dit die?”
“Meneer!”
sê Johan, “Ons laat mense karre wen!”
Meneer
Kemp wil hom op lag. “Wag, hier my meisie se nommer, laat sy gou ook ʼn kar wen,
toe man!”
Die
onskuldige dingetjie word ook om die bos gelei terwyl die skare luidkeels
applous gee.
ʼn
Halfuur later kom Meneer terug. Hy lag so dat hy nie kan praat nie. “Ouens,
Sannie het Springbokradio gebel om meer detail te kry. Hulle is woedend en sê
dat meer as twintig mense het nou al kom vra wanneer hulle die Fordjie kan kom
haal!”

Opmerkings
Plaas 'n opmerking