Kindjie van die Wind

Bermuda

31 Julie 1900

My liefste Johanna,

Ek huil nagte om oor jou en die lieflinge, dalk veral oor klein Gertjie want sy was maar twee jaartjies oud toe ek haar laas gesien het, sy is so diep in my hart gekruip ...

Vanoggend toe skree Sergeant Atkinson weer op ons, "That damn woman, Osbourn or Hobhouse or something, demands that each of you may send a letter home, now queue up, come and get a pen and paper here and write, now get fuck'in on with it!!”

Ek droom snags en weet sommer dat die oorlog seker nou lankal oor is en dit so goed met julle gaan. Hoe gaan dit op Malapanze? Is die skape mooi vet en kom die Vaalrivier sterk af? Sal ons kan saai? Wat gebeur op Christiana en Makwassie? Ou Rooihaan kraai natuurlik vroeg dag en jy en die kindertjies kan reg maak vir nog ʼn mooi dag.

Kan Hendrina al weer skool toe gaan en is juffou van Wyk terug daar?

Jong, ek het soveel vrae!

Dit gaan nie te sleg hier nie, ek kan al selfs bietjie in Engels skryf. Sergeant Atkinson is vreeslik en elke tweede woord begin met ʼn “F”! Ons kry genoeg kos en dit is warm hier met die mooiste strandjie. Hulle sê Amerika is net oor die horison, kan jy dit glo?

So gou ek terug is neem ek julle en wys hoe lyk die see. Gaan Gertjie aan haar twee handjies vashou en in die water laat loop en sy sal vreeslik lag, ek belowe!

Johanna, ek droom snags en sien julle so gelukkig, en kan nie wag om terug te kom nie. Ek droom hoe jy en die kleintjies moet lyk met julle spierwit kappies as julle met die honde en lammetjies speel. Dalk moet ons vir Gertjie ʼn pers kappie opsit, net omdat sy so oulik is!

Waar slaap Kasper nou snags? Ek hoop hy het opgehou om rotte in die huis in te dra, want hy as weer met ʼn rot op Gertjie se bedjie gaan spring gaan ek hom sommer knyp!

Ons gaan een van die dae hier uit kom, dan kom ek terug, wag vir my en dan gaan ek julle druk en soen en vashou terwyl Gertjie sommer vir dae lank op my nek ry ...

Al my liefde,

Jou Gert.

Naskrif:

Johanna, hier het vandag ʼn skip gekom en ons het elkeen nou ʼn brief van die Engelse regering gekry. In myne staan daar, "Died in the Klerksdorp camp: A boy, GD Victor 3"

Seker maar net ʼn fout? Julle is mos nie in ʼn "camp" nie? Dit kan tog nie Gertjie wees nie? Sy is dan ʼn dogtertjie?

... Johanna, PRAAT MET MY ... !!!

Erkenning: Die Klerksdorp museum en Winnie West. Twee kleindogters van Gert Victor leef nog om die storie agter die storie te vertel. Gertjie sterf op 3 jaar en word as ʼn seuntjie op die gedenksteen in Klerksdorp gewys.





Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Vinniger as Arende was hulle

Voshaar meisiekind

Sneeuwitjie van die Veld