In die donker gang




 Lara de Beer parkeer die ou Golfie, sukkel met die sleutels, die voordeur kraak oop, dis vuil en stowwerrig.

Oupagrootjie se erfporsie aan haar, al meer as honderd jaar so toegesluit, “Wil ek dit regtig hê? Nou hier in Kimberley se vuil agterbuurt kom bly?”

Tussen alles in die vergeelde papiere geskryf in Hollands oor sy pa Diederik en sy oom Johannes wat hier geboer het op Vooruitzicht en toe die bose Engelse al die De Beers van die grond af gejaag het.

“Dis 2018, wat maak dit tog saak?” dink Lara, “Hoe vervelig!”

Sy stap versigtig in die gang af. In die donker gang is daar ʼn skildery van De Wet, Cronje en De la Rey. Hul perde se oë lyk moeg want dis ʼn eindelose stryd …

“Wat nou?” wonder sy vir die hoeveelste keer, sy vroetel met die sleutel by die kamer in die hoek soos die testament haar beveel, die deur knars oop en net daar voor haar op die vloer in die skemerlig glim dit, 'n hele skoenboks vol ... klein blou glasagtige klippies …

 

Nawoord: Erkenning aan Christopher Torr. Die bose Engelse onteien ooms Diederik en Johannes De Beer in 1871 en vat hul plaas Vooruitzicht en noem dit Kimberley. De Beers word ons bekendste handelsmerk.

 

Opmerkings

Plaas 'n opmerking

Gewilde plasings van hierdie blog

Vinniger as Arende was hulle

Voshaar meisiekind

Sneeuwitjie van die Veld