Griekse Biefstuk





Erkenning aan die klassieke, “Specialty of the House” deur Stanley Ellin waaruit die slotsin gebou is.

 

 “Bulle 6, Stormers 27!” bulder die groot skerm TV in die golfklub se ledesaal. Koos en Pieter koester tranerig nog ʼn lang glas Windhoek Draft.


“Wat gaan aan Pieter?” sug ou Koos, “Wat is fout met ons? ʼn Bloubul eet mos nie van die vloer af nie maar kyk net daar!”


“Ja ou Koos en dit nogal hier op Loftus. Wat gaan van ons word ek vra jou?”


Die twee sug diep, vat nog ʼn teug en suig aan die sigare. Die eindfluitjie blaas genadiglik. Lank kyk die twee na mekaar, “Koos ek is nogal honger, sal ons iets bestel?”


Koos kyk na die muur, bly lank stil, “Piet, belowe jy vertel vir niemand?”


“Ek belowe!”


“Ek gaan jou vanaand na die beste eetplek in die stad neem, maar dis net tussen ons?”


Pieter sluk maar weer en knik. Die twee staan op, “Ou Piet, sal jy vir ons ry? Ek het nou net een dop te veel. My kar kan maar hier bly dan kom kry ek dit môre.”


Hulle trek weg in Piet se Prado, Koos knyp die lang blikkie Black Label tussen sy kniee vas, “Kry net Schoemanstraat dan beduie ek verder.”


Hulle ry en ry en toe gil Koos, “STOOPP! Draai regs hier in Andriesstraat!”


Toe hulle by die Plein kom, “Stop net hier en kom Pieter!”


Die twee slinger in die maanlig tot by die Oom, haal hul Bloubul musse af en Koos bulder, “Aaandhugg!”


Die twee kom op aandag net soos toe hulle in die parabats was en salueer! Oom Paul tuur na hulle in doodse stilte, maar as mens jou verbeel het hy tog geknik en daar was ʼn glimlaggie in sy bos baard.


Hulle val weer in die pad met die vol maan wat onder gaan in die weste voor hulle, “Draai regs, nou links …”


Dit raak vuilerig en net elke derde straatlig brand nog. Ou motor wrakke staan op die sypaadjies en Pieter loer bang oor die stuurwiel, “Koos is ons reg jong?”


“Piet vertrou my, draai nou hier links en stop agter derde gebou op die regterkant.”


Daar waar jy dit die minste verwag, seker drie dosyn van die beste uit die Duitse motorstal! “Wat gaan hier aan? Glenda Kemp en Oupa daai luislang?”


Koos antwoord nie en stap nader, dis donker, geen borde, net niks ... hy klop aan die deur, “Who’s there, wies daar?”


“Georgio dis ek, Koos.”


Die deur gaan op ʼn skrefie oop en die twee gaan in, Pieter glo sy oë nie, dis skemer donker met pers liggies, die plek is volgepak met net mans met swart pakke en dasse. Kelners met tuxedos aan stap heen en weer en dit lyk soos in Sun City!


Koos word na sy gewone tafel in die hoek geneem deur Georgio. Hy is uitgedos met ʼn strikdas, kokmus en ʼn gestreepte voorskoot. In sy hand is sy mes, die handvatsel is van egte ivoor en die lang lem glim in die kerslig …


“Georgio, dalk net en ek vat ʼn kans, is dit Griekse Biefstuk vanaand?”


“Jammer ou Koos, maar wie weet, dalk môreaand?”


Hulle skink Meerlust Rubicon 2004 en die twee word meegevoer net deur daaraan te ruik. Die res van die vertrek is stemmig en die ouens buig na mekaar en gesels saggies met breë glimlagte.
Hulle kry nou wel net Atheense lamsboud en ook dit is uit die hemel! Na die heerlike nagereg en port soos jy nog nie geproe het nie is dit pikswart filter koffie. Die twee leun agteroor en sug tevrede.

“Koos, jou lae luis, hoekom bring jy my nou eers hierheen? Wat ʼn ervaring!”
Koos bly stil en tel die Tweehonderd Rand note op die rekening. Geen kredietkaart hier nie …


Net toe hulle op staan swaai die kombuis deur stadig oop en Georgio stap nader, “Menere wat ʼn voorreg om julle hier te kon hê. Meneer Fouche, u is altyd welkom en mag nou ook sonder Koos kom en u gaste saambring.”


Hy bly lank stil, daar is ʼn glimlaggie om sy mond en sy snor buig boontoe, “Koos, ek sal jou terug neem, maar dit is nou tyd vir jou besoek aan die kombuis wat ek so lankal belowe.”


“Georgio!! Jy is my held, ek wil dit so graag sien! Piet is dit reg so met jou?”


“Ag Koos jy is my beste vriend, doen so en net môreaand is ek terug hier en ek soek jou weer hier!”

 

Piet staan tevrede by die voordeur en vir laas sien hy Georgio en Koos by die kombuis instap. In Georgio se hand blink die lang mes terwyl sy regterarm gerustellend op Koos se vlesige skouers rus …


Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Vinniger as Arende was hulle

Voshaar meisiekind

Sneeuwitjie van die Veld