Dit kom met die Sekelmaan
Doer anderkant Calvina op pad Brandvlei, toe boer tannie Sannie en Oom
Koos op hul plaas, Konkelfontein. Tannie Sannie vat nie nonsens nie en regeer
met haar koekroller.
Oom Koos weer, en julle vertel vir niemand, het ‘n skelmpie en haar naam
is “Klippies-en-Coke”!
Toe gebeur dit, ‘n vreemde vaartuig land stadig voor die opstal. ʼn Hand
skuif die gordyn opsy en ʼn man se kop en skouers kom by die luikgat uit ...
“Wat nou?” skree oom Koos, sy mond hang wawyd oop as hy na die vreemde
voorwerp kyk. Sy glas Klippies en Coke lê in skerwe langs sy voete.
“Oubaas,” blaf Boela met sy dik stert tussen sy bene ingetrek, “Oubaas
wat is dit die?”
“Boela, ek weet nie, maar ons het groot moeilikheid!”
Tannie Sannie kom by die agterdeur uit, haar wit voorskoot waai in die
wind, “Koos wat gaan nou hier aan?”
Hulle staar na die figuur wat stadig by die leer afklim ... Dit
swymel tot by hulle en vra, “Thkuhyu hejkahj rtenbd nierb?”
Oom Koos dink lank en diep en antwoord, “Aai cennot understend ju so
well, traai agen?”
Die figuur tel sy lang wit jas op en begin aan ʼn kissie stel, “O julle
is Afrikaans! Dis die eerste keer wat ek dit kan praat! Lekkerr!”
“My naam is Loeloeraai al die pad van Venus, aangename kennis!” en steek
sy een poot met die twee kloue uit om Koos te groet.
Oom Koos deins terug, maar onthou hoe sy ma hom geleer, jy groet altyd ʼn
vreemde man, stadig steek hy sy regterhand met die geel Gunston vingers uit. Hy
gril toe hy die yskoue vingers voel ...
“Koos wat doen ons nou?” vra Tannie Sannie benoud.
“Ek weet nie San!”
“Dalk vir sersant en dominee bel?”
“Ja, dis al raad wat ek het, hulle sal dalk weet wat om te doen.”
Tannie Sannie draf huis toe en draai die slinger. Soos een man tel al
vyftien op die partylyn hul fone op en onthou weer om ʼn sakdoek oor dit te hou
sodat niemand hul asems moet hoor nie.
“Sentrale, nommer vier asseblief, jy moet dominee nou vir my kry!”
“Tannie, dominee is nou net by ou Piet hulle weg en hy sal seker eers
vyf uur op die dorp aankom.” antwoord ou Koot op die skakelbord.
“Nou kry dan vir my vir sersant!”
“Pirrr, pirrr … puuuurr, puuurrr,” lui sersant se kode.
“Hallo? Dis sersant Jan wat praat.”
“Sersant! Dis Sannie, hier is groot moeilikheid en jy moet dadelik kom,
bring jou vangwa en Sarel en Alfons saam!”
Net daar gaan die lyn dood. “Sentrale? sentrale ...?”
Tannie Sannie loer bang deur die venster ... daar staan Koos en Loeloeraai
elkeen met ʼn glas Klippies en Coke en Koos skink nog ʼn dubbel vir elk!
Wat dan nou?
Tannie Sannie sit bang en wag nog ʼn hele uur, die K&C vloei vrylik
daar buite langs die vlieënde piering. En toe, toe uiteindelik, daar kom die
stofwolk! Sersant en sy manne is op pad, “dankie tog!”
Maar oo wee, stof op stof en almal op die partylyn is ook op pad! Ford
bakkies vol Bloedsappe en Chevs met al die Natte. Hier kom groot moeilikheid!
Die voertuie stop, die Bloedsappe staan bang in ʼn groep en die Natte ewe
so. Hulle gluur vir mekaar en fluister soos altyd, “Dis weer alles julle
skuld!”
Sersant haal sy 9 mil oor, Sarel en Alfons ook en stadig stap hulle bang
en krom gebuig nader na Loeloeraai en Koos. Die toeskouers kruip agter die
bonnets van die bakkies in en loer versigtig bo-oor. Tannie Sannie knyp haar oë
styf toe ... sy bewe van vrees.
Toe gebeur dit ... Loeloeraai kyk op na alles, dit swymel stadig al
nader met sy super infrarooi dubbeldoor laserwapen in sy linkerklou. Sy
regterklou dra versigtig die glas K&C.
Die groep deins terug, Sersant en sy manne kom in die gevegsposisie.
Loeloeraai
lig sy vyfde glas hoog op en skree met ʼn sopraan stem in metaalagtige
Afrikaans-Nederlands, “Klippiesshh en Coke isshh koning!!! Lank lewe die Koning!”
Geinspireer deur CJ Langenhoven se wonder storie oor Herrie die olifant, en die wese van Venus wat alles kom omkrap het, ou Loeloeraai. Die openingssin is uit die boek geneem

Opmerkings
Plaas 'n opmerking