Die oorlog in my hart



"Ag man ou Lara, jy is weer so negatief vandag!” Koos trek ʼn lang diep suig aan die Gunston en skop sy vuil bruin Grasshoppers uit. Hy lê agteroor en vat weer ʼn diep sluk aan die Carling. Carling jy weet mos, Carling Black Label …

Lara kyk moedeloos na die horison en dink, “Hoe gaan ek hom ooit op sy voete kry. Dis my eie broer wat so maak?”

Koos luister na my asseblief?”

“Ja wats dit tog nou weer?”

“Jy is al amper mondig en het niks om te wys nie. Wat gaan van jou word?”

“Lara! Ek het nou genoeg gehad van jou nonsens, gaan terug na daai kampus en jou belangrike vriende, leer en leer en leer jou vrek. Vir wat moet ek sukkel? Oupa is amper dood en ons erf alles en dan is die lewe ʼn lied!”

“Koos maar is dit lekker jong?”

“Ek wil nie met jou praat nie. Ek het my pelle, ons kuier saans heerlik en ek pla niemand. Gaan weg!! Ok?”

 

Lara pak haar paar goedjies, klim in die ou Golfie en vat die pad deur die berg Stellenbosch toe. Mamma en Pappa lank al weg na die ongeluk en net hulle twee bly oor. Sy is so jammer vir Koos maar wat kan sy doen?

Net toe sy deur die tonnel ry toe piep haar foon. Sy trek af en sit die Whatsup aan. Dis prof Flip, “Lara!! Jou artikel is aanvaar in die Londense publikasie!”

Nog ʼn piep, “Lara kan ons jou nomineer vir primaria? Jy is die beste!”

En ʼn derde piep, weer die dierbare ou prof Flip, “Lara jou punte vir jou tesis is in, Cum Laude, jy is ʼn doring!” 

Sy trek af en dink aan haar broer. Die pad is doodstil en sy maak net daar ʼn U draai, die keer bo-oor die berg want daar nie nog geld vir die tonnel nie.

 

“Koos! Koos, word wakker!”

Koos draai op sy ander sy, die walms Black Label hang oor als, “Jys terug? Vir wat?”

"Koos, ek karring aan jou, maar jy moet weet ek is net lief vir jou en so jammer. Wat oom Jan aan jou gedoen het is my en jou geheim, maar vat my hand, ek sal jou nooit los nie … kom ons gaan aan!”

Koos kyk diep in haar oë, “Lara, wat ek doen soos om in my broek te piepie, dis lekker en vir ʼn rukkie is dit heerlik warm. Kort daarna is dit vir altyd nat en koud ... "

Hy bly lank stil, begin snik, "Help my … help my!"

 

Hulle stap uit by die gradeplegtigheid, Koos se toga waai in die wind, hy kyk na sy sussie en hou haar styf vas. Hulle lag en lag!

 Voor hulle loop ʼn man, hy dra ʼn klein blonde dogtertjie, sy vra, “Pappa, pappa …?”

Die man kyk na haar, “Wat is dit liefie?”

“Pappa, hoekom lag en huil daardie oom?”

 

Erkenning aan Dana Snyman vir die slotsin. 

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Vinniger as Arende was hulle

Voshaar meisiekind

Sneeuwitjie van die Veld