Die Loch Ness Monster

  



“Kommandant! Kommandant!” roep die rapportryer en sy vosbruin hings trippel in ʼn stofwolk tot langs die slapende kommandant Piet Haasbroek.

“Wat is dit tog nou weer, Jan?”

“Kommandant, ek kom nou net van Kroonstad af en het ʼn draadberig van oom Paul homself!”

Piet skrik helder wakker, “Oom Paul! Kannie wees nie!”

Versigtig en bang maak hy die koevert oop en begin die draadberig lees, “Ik neem kennis van burger Koos Nel's heldhaftige actie en bevordert hem hier mee tot veldkornet. Getekend, SJP Kruger.”

“F#@$kkit! Net nie dit nie! Wat maak ek nou? Die dronklap is nou ʼn veldkornet!”

Koos se werk is om die Kakies wat hulle gister gevang het, op te pas. Hy sit met die Kakies se Lee Metford op sy knieë en hou wag oor die vyftien half besope Skotsmanne. Tussen sy voete die amper leë erdekruik gekonfiskeer by die dronklappe, trippel gedistilleer. Die lewe is ʼn lied!

So half eenkant sit ʼn ou. Hy hou vir Koos fyn dop. Hendrick McLeod en dis nou net hier waar die jakkalsdraaie gaan begin. “Ou Koos, hoe lyk dit met nog so ʼn doppie daar?”

In sy beneweling kyk Koos verbaas op, die Kakie in die rok praat dan ons Taal!

Dis nou net hier waar ons eers ʼn vêr draai moet gooi. Sien so agtien jaar tevore het die berugte Rotterdamse opium smokkelaar, Hennerik Maneschijn gereeld die kanaal trotseer om sy ware in Inverness te gaan lewer. Terwyl hy daar was, dan ook sommer van die verbode vrugte gaan pluk.

Een so ʼn vruggie was die mooie, sproet gesiggie, Sally McLeod. Oor die jare het hy gereeld vir sy seun gaan kuier en sommer groot gemaak om die winsgewende bedryf later oor te neem. Klein Hendrick ken The Taal, dit kan ek jou nou vertel!

In hul dorpie was sy titel, “The village idiot.” Al rede hoekom hy hier by die Royal Highland Fusiliers is, is omdat hy van “the Taal” iets van weet. Wys jou net, domgeit kan ʼn bate wees!

En nou, hou jou hart vas want die nuut bevorderde en meestal half besope veldkornet en die dowwe ou van Loch Ness is nou dalk kop in een mus ... wees bang, sommer baie bang!

Die twee loer af in die gat na die snorkende Kakies en kyk lank en diep in mekaar se oë ... “Ou Hendrick, nou vertel my meer van jou dinge?”

“Jy sien Koos, waar ek vandaan kom woon mos die reuse monster in die dam reg voor ons huis.”

“Kannie waar wees nie! Regtig?” vra Koos.

“Genuine! En elke nag presies drie uur dan snork hy en klim uit en dan al wat jou red is tien slukke double distilled ...”

Ou Koos sug diep, "dit sal darem nou lekker wees.”

“Ou Koos, kan ek jou ʼn geheim vertel? Waar dink jy kom die erdeflesse vandaan?”

“Waar?” vra Koos gretig.

"Kom laat ek jou gaan wys!" Op ʼn drafstap is die twee af in die rivier so een myl verder, “net hier, Koos, grou!”

Koos grawe met sy hande en sowaar, nog vier groot flesse!

“Sal ons ʼn doppie maak ou Koos?”

Hendrick trek die kurk uit en maak asof hy ʼn diep sluk gee. Koos gryp die fles en sy adamsappel spring op en af.

“Gee vir my ook,” en weer maak Hendrick of hy sluk.

Kort voor lank sak Koos op sy knieë, “Ou Hendrick, jysh mosh ʼn pel duishend.”

Die genadige donkerte sak op hom neer.

 

Intussen terug by kamp vergader Kommandant Haasbroek en sy veldkornette. “Ouens, Koos is nou ʼn veldkornet, ons sal moet saam leef daarmee. Kom ons stap af en gaan vertel hom en dan sal een van julle sal by die Kakies daar in die gat moet af los.”

Hulle kom by die gat, geen Kakies, geen Lee Metford, net ʼn uitstrekte snorkende Koos.

“Koos, word wakker!” beveel die kommandant.

Koos se een oog gaan oop, “... Hendrick waarsh jy, ha? ... jou twee gat jakkalsh!”


Gebaseer op ʼn onlangse besoek aan Inverness en ontmoeting met die berugte monster.

“Gooi nog ʼn doppie daar.” Bron: David Kramer se Royal Hotel.

Die stuur van woorde oor drade is reeds in 1841 gedoen na die uitvinding van Samuel Morse. Gedurende die ABO is die woord “Draadberig” hiervoor gebruik. Bron: Schoeman, J. 1950. Genl Hendrik Schoeman, ʼn verraaier?

 

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Vinniger as Arende was hulle

Voshaar meisiekind

Sneeuwitjie van die Veld