Die Eindstryd
"Boys, it will be a walkover," verklaar meneer Plumtree. "We will demolish them from the word ‘Go’ Just be yourself!"
Hou jou asem op! Kingsmead stadion is gepak om hulle finaal te verneder. Die
ABSA Curriebeker staan blink ge-Brasso op die tafel voor die hoofpawiljoen.
Vandag is mooi en niks kan in die Haaitenk verkeerd gaan nie ... absoluut niks
nie.
Die voorbokke, Keagan, Bismark
en Patrick knik entoesiasties. Die Deep Heat is ingesmeer, die adrenalien loop
hoog en vandag maak ons geskiedenis, al weer!
Kasper kyk na die spul, skud sy
kop en en hou sy hand voor sy mond. Hy sweef na die ander kleedkamer. Alistair
staan daar amper woordeloos, “Manne ons moet dit maar vat soos dit kom, soek
maar gate in hul mondering, verder weet ek regtig nie.”
Daar is tye wat jy eenvoudig
moet ingryp. Die ouens in die Kaap is mos sissies. Uit gesit op die Groot Trek,
beide Boereoorloë en weet nie van hoe dit is om twee keer kaalvoet oor die
Drakensberg te loop nie. Dit verklaar ook die haglike toestand van hul rugby.
Hulle stap uit op die veld. Die
reuse skare in swart en wit getooi gil luidrugtig, “Booeee! Booeee!”
Die Haaie kom uit en 65 000
fanatiese ondersteuners kom op hul voete en jy kan die gejuig tot vêr anderkant
die Bluff hoor!
Kasper kry vir hom ʼn plek naby
die middellyn. Almal sing “Nkosi” en struikel weer oor die eerste paar lyne.
Boonop het die Haaie die loot
gewen en kies windaf en Riaan maak reg om af te skop. Die WP ouens staan
verbeeldingloos rond en lyk asof hulle klaar verloor het. Die fluitjie blaas,
hy kom vorentoe met ʼn kort skoppie gemik op die voorspelers, jy sal my nie glo
nie die bal trek en trek en is uit net voor die kwartlyn!
“Direkte uitskop,” sê die
skeidsregter streng en Deon moet ingooi.
Die reuse Anton spring en val
soos ʼn sak patats! Die WP het die bal en gee uit na Gerhard, die doellyn wawyd
oop ... Gouws storm op hom af om hom uit te duik ... en val oor sy eie voete,
die drie onder die pale en die telling 7-0 in die WP se guns.
So gaan dit aan, die bal spring
verkeerd, die Haaie val oor hul eie voete of hardloop in mekaar vas. Dis
halftyd, met 19 -15 op die telbord word Kingsmead stil. John gil tevergeefs op
die radio.
In die hoofpawiljoen sit Maria
met ʼn breë glimlag, alhoewel sy vir die gelag moet betaal het sy geen idee wat
aangaan nie, hulle speel mos nie rugby in Portugal nie! Langs haar sit die
agbare kabinetslid, so ʼn groot dierbare ou wat lief vir sy Stuyvesantjie is,
die hou hy skelm in sy hand toe. Hy het darem self op sy dag in die Cravenweek
uitgedraf. Ek meen wie gaan nou vir ʼn lid van die kabinet vertel wat hy mag
doen?
Die hele rustyd gekenmerk deur
verslae toeskouers wat saggies vir mekaar fluister en diep slukke uit die
blikkies Castle neem. Die tweede helfte breek aan. Veertig minute van marteling
met die eindtelling in groot elektroniese letters: 25 – 18!
Die WP dra hulself skouerhoog
af. Maria gee die gesogte beker, die minister omhels elke speler en die
pawiljoen loop stil-stil leeg.
Van Seepunt tot Stellenbosch,
van Durbanville tot Dieprivier, van Woodstock tot Wellington en van Milnerton
tot Muizenberg weergalm dit dat die kranse antwoord gee!
Die vliegtuig land Sondagoggend.
Kasper is ook aanboord. Hy geniet elke oomblik toe die lughawe almal toejuig.
En ... tyd om die aftog te blaas en lank te gaan rus ... Kasper sweef weer ʼn
keer deur Maitland se begraafplaas na sy tuiste.
Hy groet weer vir oom Adam, ou
Simon, Lord Charles en verwyl ʼn tydjie by Wolraad. Elkeen wat hy kon help toe
dit die nodigste was. Soos altyd hang hy heel laaste stil by die ene wat hy so
graag wou help, die keer wat selfs hy misluk het.
Die blink trane loop oor sy
spierwit wange, “Bitterbessie dagbreek, bitterbessie son ... ek is so bitterlik
jammer Ingrid ...”

Opmerkings
Plaas 'n opmerking