Die Eindstryd

  


"Boys, it will be a walkover," verklaar meneer Plumtree. "We will demolish them from the word ‘Go’ Just be yourself!"

Hou jou asem op! Kingsmead stadion is gepak om hulle finaal te verneder. Die ABSA Curriebeker staan blink ge-Brasso op die tafel voor die hoofpawiljoen. Vandag is mooi en niks kan in die Haaitenk verkeerd gaan nie ... absoluut niks nie.

Die voorbokke, Keagan, Bismark en Patrick knik entoesiasties. Die Deep Heat is ingesmeer, die adrenalien loop hoog en vandag maak ons geskiedenis, al weer!

Kasper kyk na die spul, skud sy kop en en hou sy hand voor sy mond. Hy sweef na die ander kleedkamer. Alistair staan daar amper woordeloos, “Manne ons moet dit maar vat soos dit kom, soek maar gate in hul mondering, verder weet ek regtig nie.”

Daar is tye wat jy eenvoudig moet ingryp. Die ouens in die Kaap is mos sissies. Uit gesit op die Groot Trek, beide Boereoorloë en weet nie van hoe dit is om twee keer kaalvoet oor die Drakensberg te loop nie. Dit verklaar ook die haglike toestand van hul rugby.

Hulle stap uit op die veld. Die reuse skare in swart en wit getooi gil luidrugtig, “Booeee! Booeee!”

Die Haaie kom uit en 65 000 fanatiese ondersteuners kom op hul voete en jy kan die gejuig tot vêr anderkant die Bluff hoor!

Kasper kry vir hom ʼn plek naby die middellyn. Almal sing “Nkosi” en struikel weer oor die eerste paar lyne.

Boonop het die Haaie die loot gewen en kies windaf en Riaan maak reg om af te skop. Die WP ouens staan verbeeldingloos rond en lyk asof hulle klaar verloor het. Die fluitjie blaas, hy kom vorentoe met ʼn kort skoppie gemik op die voorspelers, jy sal my nie glo nie die bal trek en trek en is uit net voor die kwartlyn!

“Direkte uitskop,” sê die skeidsregter streng en Deon moet ingooi.

Die reuse Anton spring en val soos ʼn sak patats! Die WP het die bal en gee uit na Gerhard, die doellyn wawyd oop ... Gouws storm op hom af om hom uit te duik ... en val oor sy eie voete, die drie onder die pale en die telling 7-0 in die WP se guns.

So gaan dit aan, die bal spring verkeerd, die Haaie val oor hul eie voete of hardloop in mekaar vas. Dis halftyd, met 19 -15 op die telbord word Kingsmead stil. John gil tevergeefs op die radio.

In die hoofpawiljoen sit Maria met ʼn breë glimlag, alhoewel sy vir die gelag moet betaal het sy geen idee wat aangaan nie, hulle speel mos nie rugby in Portugal nie! Langs haar sit die agbare kabinetslid, so ʼn groot dierbare ou wat lief vir sy Stuyvesantjie is, die hou hy skelm in sy hand toe. Hy het darem self op sy dag in die Cravenweek uitgedraf. Ek meen wie gaan nou vir ʼn lid van die kabinet vertel wat hy mag doen?

Die hele rustyd gekenmerk deur verslae toeskouers wat saggies vir mekaar fluister en diep slukke uit die blikkies Castle neem. Die tweede helfte breek aan. Veertig minute van marteling met die eindtelling in groot elektroniese letters: 25 – 18!

Die WP dra hulself skouerhoog af. Maria gee die gesogte beker, die minister omhels elke speler en die pawiljoen loop stil-stil leeg.

Van Seepunt tot Stellenbosch, van Durbanville tot Dieprivier, van Woodstock tot Wellington en van Milnerton tot Muizenberg weergalm dit dat die kranse antwoord gee!

 

Die vliegtuig land Sondagoggend. Kasper is ook aanboord. Hy geniet elke oomblik toe die lughawe almal toejuig. En ... tyd om die aftog te blaas en lank te gaan rus ... Kasper sweef weer ʼn keer deur Maitland se begraafplaas na sy tuiste.

Hy groet weer vir oom Adam, ou Simon, Lord Charles en verwyl ʼn tydjie by Wolraad. Elkeen wat hy kon help toe dit die nodigste was. Soos altyd hang hy heel laaste stil by die ene wat hy so graag wou help, die keer wat selfs hy misluk het.

Die blink trane loop oor sy spierwit wange, “Bitterbessie dagbreek, bitterbessie son ... ek is so bitterlik jammer Ingrid ...”

 


Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Vinniger as Arende was hulle

Voshaar meisiekind

Sneeuwitjie van die Veld