Die Onbesonge Held


 “Nou waar gaan die oom dan met daardie byl?” vra Letitia vir haar mamma toe hulle van die ontbyt tafel opstaan en oom Koos oor die werf strompel met die handbyl ...

 

Ek wil vanaand vir julle verder van oumagrootjie Letitia vertel. Sy was ʼn dogtertjie soos Grethe terwyl oom Koos daar in ʼn kliphuisie op hul plaas, Vanrooyenpark, langs die Vaalrivier gebly het.

Dit terwyl ons almal heerlik hier by die vuur is en veral met Grethe, Rethe en Duvan nou ook hier. Julle is my en ouma se hart se punt! Wat is beter as hier in Letaba, die potjie wat Rian vir ons gemaak het en die Zonnebloem in my hand?

 

“Mamma wat maak oom Koos dan hier? Wat is dan fout met hom?” vra Letitia soveel kere as sy hom sien strompel met die ewige byl in die hand.

“My kind, ek wens ek geweet maar pappa wil vir niemand vertel nie.”

Soms was haar mamma so kwaad vir haar pappa dat sy sommer op hom geskree het, “Kry die donnerse drol van my grond af, ek kan hom nie meer verdra nie!”

Dan baklei hulle agter ʼn toe deur en Letitia druk maar net haar oortjies toe.

“As Koos van der Bijl gaan, gaan ek ook,” was haar pappa se laaste woorde altyd, dan neem hy sy pyp, stap hinkend met sy kort beentjie weg om na die koeie te gaan kyk.

 

Toe daardie Sondag in herfs, haar pappa kom in by die kombuis terwyl Letitia weer haar oggendpap eet.

 ʼn Ware boer huil mos nooit, behalwe natuurlik as die eerste bulkalf van die seisoen gebore word, tog die keer loop die trane oor sy wange, “Koos is dood, hy lê net daar op sy vloer en hy hou die byl met albei hande vas ... ”

 

Mense kom van oral, belangrike mense uit Pretoria met duur spaaiders. Die staatssekretaris se spaaider het nie perde nie en die koetsier nie ʼn sweep nie! Dit loop sommer vanself, kan jy dit glo? Hy vertel dat ʼn Duitser, mijnheer Benz, dit vir oom Paul gegee het, maar die oom wil liewer nie daarin ry nie.

Letitia en haar mamma verstaan dit nie. Oom Koos was tog ʼn alleen mens sonder kind of kraai? Hulle begrawe vir oom Koos en toe die laaste kluite op die kis val, sing almal, “Prys den Heer!”

Haar pappa bid, “Dat Gij, Uw behaag het om Koos van der Bijl van ons weg te neem op dertig jaar en vier maande ... ”

 

Wel, dit is soos ek dit alles onthou wat oumagrootjie Letitia vir ons so mooi vertel het.

Toe nou amper honderd jaar later gaan ek weer deur ouma Letitia se goedjies en kry ʼn hierdie brief. Ek gaan dit vir julle lees, jammer maar ek gaan dalk huil …

 

 

Aan: Mijnheer Johan van Rooyen
VanRooyenpark, Vaalrivier distrik.
27 Februarie 1895


Geagte Johan,

Ek en oom Paul het vandag beraadslaag. Ek het hom weer van daardie dag, 27 Februarie 1881 op Majuba vertel. Met geen ammunisie meer nie moes ons hulpeloos kyk na jou. Jy het leweloos gelê, honderd jaart verder, ons kon jou bloed op die klippe sien ...

Koos was maar ʼn penkop nes jy, skaars 16 jaar. Hy skree op my, “Generaal! Hoekom staan jy dan net daar en doen niks, jou lafaard!”

My manne gryp hom om hom stil te maak, hy ruk los, gryp na sy sak en haal ʼn handbyl uit, hy storm af op die Rooibaadjies, hulle skiet hul magasyne leeg op hom. Hy het vermink vyf van hulle, die res vlug, die lafaarde!

Toe ons daar kom, jy met been wonde terwyl die bloed uit Koos se hare sypel. Julle het nog geleef, ons het die Here geprys!

Dokter Van Heiningin, die ou Hollander, het ons verseker dat Koos sal leef maar dat sy kop baie seergekry het en dit nie sal reg kom nie. Koos het die veldslag omgeswaai, Koos het die Zuid-Afrikaansche Republiek gered, hy het jou lewe vir jou teruggee ...

Oom Paul het opdrag gegee aan mijnheer Rissik dat die plaas naam sal verander soos jy gevra het. Van nou sal dit wees:

“Vanderbijlpark”.

Die Dienswillig die uwe,

Piet Joubert, Kommandant Generaal, Zuid-Afrikaansche Republiek


Opmerkings